
THE HEALING THAT COMES
I know how long
you have been waiting
for your story to take
a different turn,
how far
you have gone in search
of what will mend you
and make you whole.
I bear no remedy,
no cure,
no miracle
for the easing
of your pain.
But I know
the medicine
that lives in a story
that has been
broken open.
I know
the healing that comes
in ceasing
to hide ourselves away
with fingers clutched
around the fragments
we think are
none but ours.
See how they fit together,
these shards
we have been carrying—
how in their meeting
they make a way
we could not
find alone.
Jan Richardson
from The Cure for Sorrow: A Book of Blessings for Times of Grief
Dat so eenvoudige vraag nou ‘n hele lewe kan oopbreek?
Die verhaal van die vrou wat vir twaalf jaar aan bloedvloeiing gely het, kom ‘n paar keer in die evangelies voor. My lens was altyd gestel op die arme vrou. Ons vrouens ken van “daai tyd van die maand”. Ons mans en die mense na aan ons ook. My man het altyd, voor ek nog geweet het wat kom, vir my hoenderlewers gemaak. “Vir jou yster.” Theo het onlangs gebel en Bas, my elfjarige, het die foon opgetel en toe Theo vra, “Hoe gaan dit daar” antwoord Bas, “Nie so lekker nie. My ma het daai tyd van die maand” … en die lewe gaan aan en niemand lig ‘n oog of hou my op ‘n afstand nie (behalwe as hulle uit my pad wil bly). Nie vir hierdie vrou nie. In daai tyd is haar kondisie as onrein beskou. Nie net een keer ‘n maand nie. Vir twaalf jaar. Sy het heel waarskynlik gesukkel om uit die bed te kom, om aan te trek, om haar gesin te versorg. Om nie eens te praat van die sosiale en emosionele isolasie en uitwerping wat sy ervaar het nie. Sy kon nie in die tempel aanbid nie en sy mag, bowenal, aan niemand geraak het nie want dan, so is geglo, sou hulle ook onrein – vuil – word. En hier is sy, tussen die skare wat Jesus verdring. Hier gebruik sy haar laaste greintjie krag en neem die risiko wat net geloof ‘n mens kan laat neem. Net as jy niks meer oor het nie. As jy alles verloor het en almal jou in die steek gelaat het.
Sy steek haar hand uit en raak aan Jesus. Net aan die soom van sy klere, soos die Woord sê. En sy wéét oombliklik – en die Griekse woord vir daai wete is ginoskos wat beteken om uit ervaring te weet – sy voel met haar hele wese hoe sy genees is. Sy het die untouchable aangeraak en het bly lewe, het dalk vir die eerste keer werklik gelewe.
Dan vra Jesus, “Wie het aan My geraak?” en sy dissipels, wat nie so in touch is met Hom nie dink dis ‘n belaglike vraag. Ek het dit al dikwels gelees en amper ‘n beskuldigende toon daarin gehoor, seker maar gebreinspoel deur ons samelewing wat so agterdogtig geraak het deur enige vorm van aanraking … wat is dit? Is dit ons vrees vir hofsake (as ons onderwysers is), is dit ons dieper vrees vir intimiteit? Maar Jesus, as ons sy woorde meet aan Wie Hy is, het ‘n ander agenda. Hy is nie tevrede met ‘n blote wonderwerk nie, Hy is op soek na ‘n persoonlike ontmoeting. Hy wil weet wat die vrou se storie is, Hy wil die volle waarheid uit haar mond hoor. Want Hy weet dis waar die genesing lê. In teenwoordigheid. In openbaring. In die lig wat vloei in die donker krakies van ons geheime, ons pyn, ons wegsteek, ons wegkruip. En sy word héél. Hy groet haar met die woorde, “Gaan in vrede. Jy is genees (wat in die oorspronklike taal beteken: dis afgehandel). En dan voeg Hy by, “Gaan wéés genees.” Hierdie genesing is ‘n ding wat gebeur en aangaan. Dis ‘n avontuur. Dis nie verby nie, al is dit afgehandel. Om gelyk te word aan die beeld van Christus ís die avontuur.
Interessant dat dit die enigste plek is in die Woord wat Jesus iemand “Dogter” noem, om hierdie persoonlike ontmoeting nog nader aan die vel te bring. Om hierdie wedersydse aanraking “huis toe” te bring. Alhoewel dit nêrens in die Bybel staan nie, glo heelwat mense en is dit volgens oorlewering so dat hierdie vrou se naam Veronica was – “vera” beteken true (ware) en “icon” natuurlik beeld. Daar word vertel dat sy een van die vroue is wat op Jesus se Via Dolorosa teenaan Hom was, dat sy sy gesig afgevee het van die sweet, bloed en stof en dat sy gesigslyne wonderbaarlik bly sit het op die lap wat sy gebruik het. Of dit geskiedkundig waar is, dit gaan my nie aan nie. Dat dit “track”, is onomwonde. Hoe kan mens ooit die mens (of die dokter, die verpleegsters, die hele mediese span) vergeet wat jou lewe gered het? Sy raak Hom weer aan, in sy diepste oomblik van nood, omdat sy nie onaangeraak deur die lewe kon gaan na Hy haar aangeraak het nie.
Hoe hoor jy vandag Jesus se woorde?
Is jy bereid om alles wat jy dink jy weet te laat vaar om Hom te ken.
Om in Sy teenwoordigheid te wees.
Om in die skare se oë onrein en aan die wet se verkeerde kant te staan.
Om so bakhand te staan vir Sy aanraking dat jy weet dat jou “vuil” Hom nie ook onrein sal maak nie?
My storie gaan jare terug. Na die middel 90’s toe ek, as tiener, aan depressie gely het voor dit regtig ‘n ding was. Voor daar woorde en terme was daarvoor op straat. Ek het vir lank hierdie isolerende geheim in my rondgedra en myself op allerhande maniere wangedra in die proses. My pa het my op die ou end Kaap toe gebring en ek is behandel in ‘n psigiatriese eenheid in die hospitaal. Een oggend het my pa langs my kom sit, my diep in die oë gekyk en gevra, “Is daar iets wat jy vir my wil vertel?” Ek kon natuurlik ‘n beskuldiging gehoor het, maar dit sou nie in lyn wees met wie my pa is nie. Ek het hom, na wat gevoel het soos ‘n ewigheid van stilte, alles vertel, my hele storie, al my geheime. Ons kon huis toe gaan. My liggaam se chemie het ‘n tydjie geneem om die genesing wat in my binnegoed plaasgevind het te snap, maar dit was die eerste tree. Ek onthou nog elke oggend as ek uit die bed klim en die voëls hoor en uitsien na die dag hoe dit gevoel om te wil bly lê, om te wil doodgaan, om geen uitsig te hê nie. Hoe om niks te wil aanraak nie en aangeraak te word deur niks nie. Ek leef hierdie storie. In dankbaarheid. Ek sien hoe al die stukke – en ook skerwe – van my soms stukkende lewe ‘n geheel vorm en pad maak. Hoe héél ek is in Sy oë.
- Deur Frieda van den Heever