Ek wonder soms of gebed so ontwerp is om ons so te frustreer dat ons uiteindelik ophou bid. Dink vir 'n oomblik aan die kompleksiteit van gebed. Vir wie moet ons bid? Wie laat ons uit of slaan ons oor? Waarvoor en waarom moet ek bid as God alles reeds weet? “…want julle Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.” (Matt 6:8.) Bid ek uit vrees of liefde en hoe bepaal ek my eie ware motivering in gebed?
“Prayer is most important and most powerful precisely when we feel it is most hopeless – and we are most helpless.” Ronald Rolheiser
Dalk is hierdie frustrasie reeds die Here se manier om my te lei na ware gebed. Ek dink aan Jesus se woorde: “You're blessed when you're at the end of your rope. With less of you there is more of God and his rule.” Mattheus 5:3. Die tou wat jy moet los, is iets van jouself, of anders gestel: Laat die regte persoon in jou bid!
C.S. Lewis het dit mooi verwoord: "May it be the real I who speaks. May it be the real Thou that I speak to."
Daar is 'n gedeelte in myself (noem dit wat jy wil, die ego, vlees, ou mens, vals self, of wat jou help om dit te verstaan) wat verkeerd bid. Jesus vertel 'n gelykenis in Lukas 18 van hoe godsdienstige mense met die “regte gebede” verkeerd bid, en hoe sondige mense met “verkeerde gebede” reg bid. Romeine 7 en 8 help jou om die pad na jou hart te vind sodat jy uit jou ware geskapenheid kan bid. “En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.” Romeine 8:26.
Ons gesels Sondag oor hoe ek hierdie swakheid om te kan bid (met al die frustrasies!) kan herken, en hoe my gebede kan skuif na ‘n diep plek wat ek saam met God bid. Die uiteindelike doel van gebed is nie om gebede aan God te bring nie, maar dat my lewe ‘n gebed word. Dan word God nie meer ‘n besoeker op uitnodiging nie, maar ‘n permanente bewoner “sonder ophou” (1 Tessalonisense 5:17) en “altyddeur” (Lukas 21:36).
"For desire never ceases to pray even though the tongue be silent. If ever desiring, then ever praying." T Aquinas
Theo Geyser