Dis ’n week voor Kersfees. ’n Week voor ons eerste “normale” Kersfees in 3 jaar. Aan die een kant is die vooruitsig van familietyd, lekker eet en samesyn vir party van ons lekker en opwindend. Iets waarna daar al maande lank uitgesien word omdat die beplanning al vroeg vanjaar begin het. Aan die ander kant is die vooruitsig dalk swaar of selfs spanningsvol. Miskien gaan daar ’n leemte aan die kerstafel wees na die afsterwe van ’n geliefde, dalk is daar spanning want die familie wat nie eintlik lekker oor die weg kom nie, kom vir die eerste keer in ’n baie lank tyd saam. Dalk is die vooruitsig dat jy vir die eerste keer gaan alleen wees.
Ons is grootgemaak om te dink Kersfees, nes meeste ander dinge, kan net die een of die ander wees. Ons kies outomaties die goeie, lekker of positiewe benadering, en besighede weet dit want met groot advertensie veldtogte, op TV, Facebook, Instagram, wil hulle ons elkeen oortuig dat die produk wat hulle verkoop blydskap gaan bring. ’n Leemte gaan vul wat ongelukkig ’n leë belofte is. Hulle probeer vir ons sê: ”Al is jy sonder dit of dat, sal hierdie geskenk, krismis versiering of speletjie om die etenstafel, daardie leemte vul en beter maak”. Geen paradokse is welkom nie. Die wêreld sê jy mag nie bly en hartseer wees gelyktydig nie. Dis of goed of sleg, lig of donker, warm of koud... Ek huil maklik as ek regtig bly is, en meeste mense sal dan vir my sê, "Haai, wat is fout? Hoekom is jy hartseer?”
Jesus se geboorte verhaal is gevul met paradokse. Dit wil vir ons hoop gee dat paradokse saam kan en ook moet bestaan. Dit wil ons help en vra om die paradokse in ons lewens raak te sien en te omhels.
Paradokse dui dus op ’n diep verklaarbare maar ook onverklaatbare afhanklikheid. Dit wys dan ons diep afhanklikheid van God. ’n Diep afhanklikheid aan die hoop maar ook realiteit wat hierdie Kersverhaal waar Jesus die wêreld binne tree in alles behalwe ideale omstandighede vir ons wil gee.
Kersfees gaan vanjaar ’n nuwe normaal wees, dis my en jou besluit hoe ons hierdie normaal wil omarm. Wil jy nie die paradokse in jou lewe tans eerder omhels as ignoreer of afmaak nie?
Soos ons die laaste paar dae voor Kersfees binnegaan gebruik gerus hierdie gebed wat jou dalk kan help om jou bewus van paradokse te maak:
Verwelkomingsgebed - Thomas Keating
Welkom, welkom, welkom.
Ek verwelkom alles wat vandag besoek kom aflê
omdat ek weet hulle is U gesante vir my genesing.
Ek verwelkom alle gedagtes, gevoelens, gesigte en gebeure.
My begeerte na beheer en mag– dié gee ek oor vandag;
my drang na aanvaarding, status, goedkeuring en plesier – dit laat ek hier; my verlange na oorlewing en sekuriteit;
die druk om enige gedagte, gevoel, gesig, gebeurtenis,
– selfs my eie geskiedenis – te verander,
ek bring dit alles voor U.
Ek maak myself oop vir U liefde, U teenwoordigheid en U beweging in en om my.
Amen
Deur Francois van der Merwe