top of page

Waarom Lent?




Lent het Woensdag begin. Regoor die wêreld het duisende mense in gebed met verskeie rituele aangemeld om hulle te verbind aan ‘n tydperk van 40 dae van toewyding tot en met Paasfees.


Een van die gebruike is om as op jou voorkop te smeer.


Ek  verstom my dat plek soos New York (beslis nie jou Bible Belt nie!) duisende mense met hierdie as-kruisies op hulle voorkoppe loop. Waarom sou mense so iets wil doen? Self diegene wat sukkel met geloof en buite die kerk staan. Dalk 'n erkenning van die gedeelde menslike ervaring van sterflikheid en broosheid? Uit stof gemaak, en tot stof terugkeer? Die as word 'n simbool van verset, 'n stille opstand teen die onvermydelike. 'n Herinnering dat ons nie net liggame is wat deur tyd gejaag word nie, maar ook ‘n siel het wat na God en iets groters as my lewe verlang.


Die aantrekkingskrag van die as-kruis, die feit dat mense daarheen stroom, selfs diegene wat die kerk se drempel skaars ken, is 'n taal wat die siel self spreek. As is stof, ja, maar dit is ook 'n kragtige simbool, 'n brug tussen die sigbare en die onsienlike. Dit is die stof van verbranding, die oorblyfsel van wat was, 'n herinnering aan die verganklikheid van alles. Maar dit is ook die stof van nuwe begin, die grond waarin nuwe lewe ontkiem.


Bybel verbind dit aan bekering, wanneer mense gerou het. Die uitdrukking "sak-en-as bekeer" verwys na 'n antieke gebruik wat 'n teken van diep nederigheid en selfvernedering was. Dit kom veral in die Bybel voor. Die growwe materiaal (soos 'n sak) was 'n teken van rou en droefheid en die as wat oor die kop gestrooi word was ‘n teken van berou en erkenning van sterflikheid. Die diepste motivering hiervoor was die opregte soeke na ‘n nuwe begin.  


Daar is 'n rede waarom as 'n rol speel in byna elke godsdiens, van die antieke rituele van die Egiptenare tot die hedendaagse gebruik van Aswoensdag. Dit is 'n universele taal, 'n taal wat verstaan word deur diep in ons menslike psige. Die as-kruis op die voorkop word 'n merk van nederigheid, 'n erkenning van ons menslike broosheid, 'n herinnering aan ons verbintenis met die aarde. Dit is 'n teken dat ons nie bang is om ons eie sterflikheid in die oë te kyk nie, dat ons bereid is om te erken dat ons stof is, en dat ons tot stof sal terugkeer.


Self in die mitologie en stories wat ons vertel word hierdie belangrike ondertoon beklemtoon. Aspoestertjie (naam beteken letterlik jong meisie wat in as sit) is storie van iemand wat baie lank moes wag, verneder word  en is deur swaar lyding totdat sy die prins se hand gewen het. Lent is nie die tyd by die dans nie en die soen van die prins se hand nie. Dit is die stadige tyd voor dit. "Lent" is afgelei van 'n ou Engelse woord wat "lente" beteken. In Latyn beteken lente stadig. Lent dui dus op die koms van die lente en nooi ons uit om stadiger te beweeg sodat ons ons lewens kan raaksien.  Aspoestertjie moes dae, maande en jare wag. Sy het haar lewe gewag vir ‘n nuwe begin en ‘n voller lewe wat almal om haar geniet het.


Ons leef inderdaad in 'n kultuur van linne en grimering, 'n blink fasade wat die ruwe werklikheid verberg. Ons is so gewoond aan die gladde oppervlaktes, die gefiltreerde beelde, die gekunstelde perfeksie, dat ons blind geword het vir die ongemak van sak en as. Dit is 'n uitnodiging om die masker af te haal, om die grimering af te was, om die linne te verruil vir rou materiaal. Dit is 'n uitnodiging om die ongemak te omhels, om die waarheid te konfronteer, om ons eie sterflikheid te aanvaar.


Want dit is eers wanneer ons ons sterflikheid aanvaar, wanneer ons ons broosheid erken, dat ons werklik kan begin lewe. Dit is eers wanneer ons die leuen van onsterflikheid verwerp, dat ons die waarheid van ons menslikheid kan omhels.


Ons nooi jou uit om hierdie 40 dae voor Paas saam met ons op reis te gaan tydens Lent. Jy kan die reis elke dag op ons nuwe toepassing (app) volg.


"Lent is about baptismal renewal rather than penance. Our penance is only an expression of that renewal."

Ronald Rolheiser

 

"In the depth of winter, I finally learned that within me there lay an invincible summer."

Parker Palmer




- Theo Geyser


bottom of page