top of page

Waarheen is ek op pad?



As ek jou vra waarheen jy hierdie jaar gaan, kan jy dalk antwoord: Namibië toe, of dalk na die plaas, of sommer net nêrens nie – ek gaan maar net werk toe en terug. Ons verduidelik ons bewegings dikwels aan die hand van fisiese plekke en eksterne ruimtes. Die fisiese ruimte waarin ons beweeg is van uiterste belang, want dit vorm ons, dit beïnvloed wie ons is. Ons lyk dikwels soos die plekke en mense waar ons bly.

 

‘n Moeiliker vraag is: Waarheen beweeg jou hart of innerlike wêreld?

 

Soms verskil die uiterlike pad van die innerlike pad.

 

Jy kan op die regte plek wees, maar vir die verkeerde redes. As ek Frankryk toe verhuis kan dit die regte plek wees, maar as ek dit doen om te vlug van my probleme word so bestemming hel. Jy kan op die verkeerde plek wees vir die regte redes. Jesus was gereeld in die moeilikheid oor waar Hy fisies was en met wie hy tyd spandeer het.

 

Ons voete en harte is baie keer op verskillende plekke. Dit is gewoonlik in hierdie spanningsveld waar die Here ons ontmoet en waar ons iets van die rigting van ons lewe verstaan. Ons gesels Sondag oor Moses. Hy leef in hierdie spanningsveld. Hy is ‘n Egiptiese prins wat alles het wat sy hart begeer. Sy voete eindig by sukses, aanvaarding, sekuriteit en mag. Maar hy weet hy is ook ‘n Hebreër, en op ‘n dag verander alles. Sy hart laat hom sy eie mense voel. Dan probeer hy sy eie hy sy roeping uitwerk en slaan iemand dood.

 


Jy leef ook met die Egiptenaar en die Hebreër in jou. Watter een werk jou roeping uit? Luister hoe mooi verwoord Parker Palmer hierdie spanning: “If the self seeks not pathology but wholeness, as I believe it does, then the willful pursuit of vocation is an act of violence toward ourselves — violence in the name of a vision that, however lofty, is forced on the self from without rather than grown from within. True self, when violated, will always resist us, sometimes at great cost, holding our lives in check until we honor its truth. Vocation does not come from willfulness. It comes from listening. I must listen to my life and try to understand what it is truly about — quite apart from what I would like it to be about — or my life will never represent anything real in the world, no matter how earnest my intentions.”

 

Jou roeping lê nie in die ontdekking van een of ander voorkennis nie, maar in die nederige oorgawe aan geloof en liefde, reg binne die omstandighede waarin jy jouself bevind – of jy dit gekies het al dan nie. Moses het die Here ontmoet in die alledaagse – tussen die skape waar hy daagliks gewerk het.



Frederik Buechner beveel hierdie aan wat ‘n fantasiese geloofsgewoonte kan wees:

“When you wake up in the morning, called by God to be a self again, if you want to know who you are, watch your feet. Because where your feet take you, that is who you are.”

Mag 2025 'n jaar van besondere vreugde wees waar jou voetstappe die ritme van jou hart se verlange volg!

 


- Deur Theo Geyser

bottom of page