Die laaste paar jaar is dit vir my opvallend hoe my liggaam verouder het. Eweskielik kan ek nie meer so vinnig terug spring na ‘n laat aand nie, en een week se gesond eet help nie meer om die vakansie se ekstra gewig af te skud nie. Nee, dit sit.
Om sake nog meer te kompliseer is daar ‘n definitiewe skuif wat gebeur het, ‘n ontwaking (of dalk eerder ‘n ontnugtering) oor wat aan die gang is in die wêreld en waar my lewe heen oppad is, en ek is nie die enigste een nie. ‘n Vriend van my het opgemerk hoe ‘n mens in jou dertigs agterkom dat dit wat jy gekies het in jou twintigs dalk nie die heel beste pad was nie, of dit werk glad nie meer nie of net bloot nie vir jou nie.
‘n Ander vertel hoe dit vir hom gevoel het asof daar ‘n mis oor sy lewe neergedaal het en dat die pad wat eers so duidelik was, hy glad nie meer kon sien nie en hy nou verdwaal het in ‘n digte oerwoud. Soos hy vorentoe beur deur die struike en plante, kom hy nou en dan by ‘n klein oopte, vertel hy. Elke keer dink hy dat hierdie die plek is waar hy moet wees net om na ‘n tyd agter te kom dat dit nie die plek is nie, en hy verder moet beur deur die digte onderbos. Totdat hy eendag by ‘n afgrond gekom het en daar net een opsie was, om te spring…
Kom kuier Sondagmiddag 17:00 saam by Invia Kaapstad waar ek so bietjie gaan deel oor oud- of ouerword, die eerste en die tweede helfte van ons lewens en die geskenk wat daarin lê as ons dit toelaat.
Nooi gerus jou vriende, daar sal weer kinderaktiwiteite tydens die diens wees.
Pierre