top of page

Vrae: Waar is die ander nege?



Ons lewe tans in ‘n wellness- en self-help-evangelie-kultuur waar dankbaarheid nou weer in die kollig staan soos ‘n ou waarheid wat skielik nuwe klere dra. Die opgekropte ontevredenheid  en ondankbaarheid pas nie lekker in die wellness-kultuur nie. Ons weet dit maak jou siek en ongelukkig.

 

Die nuwe glans van positiewe sielkunde, die belofte van 'n beter lewe, 'n groter perspektief op die wêreld, is nie per se 'n slegte ding nie. Niemand kan stry teen die waarde van 'n positiewe uitkyk nie. Die navorsing is daar, die resultate is meetbaar: mense wat dankbaar leef, leef beter.

 

Maar hier kom die groot "maar" - wat presies bedoel ons met dankbaarheid?

 

Is dit 'n soort geestelike gimnastiek waar ons onsself moet dwing om die silwer randjie raak te sien? Of dalk 'n neurologiese herbedrading waar ons ons breine moet oefen soos 'n spier, totdat positiwiteit so natuurlik kom soos asemhaal?

 

Jesus se verhaal oor die 10 melaatses kan ons help om te verstaan wat dankbaarheid is. Tien genees, een kom terug. Die statistiek is pynlik - dis die persentasie van mense wat werklik sien, wat werklik verstaan. Die een wat terugkom het iets raakgesien wat die ander nege gemis het. Die ander nege was Jode, en het dalk verwag dat dit 'n natuurlike gevolg van hulle status as uitverkore volk was. Hulle was ook op pad na die Hoëpriester, nie om dankbaarheid te betoon nie, maar eerder om hulle genesing amptelik te laat bevestig, soos wat die gebruik was. Jesus leer dat ondankbaarheid 'n vorm van geestelike melaatsheid is wat ons isoleer van God en ander an ons ongesond maak.

 

Die een wat teruggekom het was ‘n Samaritaan. Hy was nie bevoorreg nie. Hy het nie net sy liggaam teruggekry nie - hy het 'n nuwe manier van kyk ontvang. Hy sien nie net die wonderwerk nie, maar die Wonderwerker. 


Hiervoor gee hy sy volle aandag.

 

Die antwoord oor dankbaarheid lê nie in die "hoe" nie, maar in die "hoekom". Dit lê in die herontdekking van verwondering en in die geskenk van ware heelheid. Hy kry ‘n nuwe liggaam, en ook ‘n nuwe gemeenskap en ‘n nuwe geloof.  Die woorde van Jesus “Jou geloof het jou gered” kan die beste vertaal word met “Jou geloof is besig om jou te red…” 


Dankbaarheid word gebore uit ‘n manier van lewe en nie uit ‘n tegniek om jou lewe makliker te maak nie. Dit is 'n lens waardeur ons die lewe dieper kan sien, voller kan ervaar, en eerliker kan leef.

 


“Don’t look for shortcuts to God. The market is flooded with surefire, easygoing formulas for a successful life that can be practiced in your spare time. Don’t fall for that stuff, even though crowds of people do. The way to life—to God!—is vigorous and requires total attention." Matt 7:13-14



- Theo Geyser 

bottom of page