top of page

Vergenoeg of vêr van genoeg?



Die einde van die jaar voel inderdaad soos die einde van 'n marathon. Diegene wat al 'n marathon gehardloop het, weet dat daardie laaste paar kilometers die verskil tussen lewe en dood kan wees! Wat hierdie tyd van die jaar nog meer uitdagend maak, is die voorraadopname van jou drome en doelwitte, en die beplanning vir die jaar wat voorlê.


Elke jaar kom dieselfde spoke kuier – dié wat my herinner aan alles wat ek nog kortkom.


Neem maar tyd as voorbeeld. Niemand het genoeg daarvan nie en smag na meer! Twee skrywers het dit treffend verwoord:


“I have filled my life so completely that many days there is no time to think about the fact that I am living it” – Roger Ebert.


“This is the moment we’ve been waiting for, but we don’t have any time in which to live it” – Douglas Rushkoff.


Ons gebrek aan tyd weerspieël 'n rustelose soektog – 'n gejaag na vervulling wat ons telkens ontwyk, juis omdat ons op die verkeerde plekke soek.


Toe een van die rykste mense ter wêreld gevra is: "Wanneer is genoeg, genoeg?" was sy antwoord eenvoudig: "Net 'n bietjie meer." Wat is dit in elke mens wat ons laat hunker na meer? Vanuit 'n geestelike oogpunt het die kerkvader Augustinus dit só verduidelik: Mense word met 'n leemte gebore, en ons spandeer ons hele lewe om dit te probeer vul – totdat ons uiteindelik besef dat slegs God daardie leemte kan vul.


Onvergenoegdheid strek verder as blote materialisme.

 


Dit manifesteer in ons strewe om meer te wil vermag as wat die lewe ons toelaat. Soos Henri Nouwen dit stel: “Our lives often seem like overpacked suitcases bursting at the seams. In fact, we are almost always aware of being behind schedule. There is a nagging sense that there are unfinished tasks, unfulfilled promises, unrealized proposals. There is always something else we should have remembered, done, or said. There are always people we did not speak to, write to, or visit.”

 


Ons het 'n onversadigbare dors om die wêreld in een sluk te verower. Ons wil alles wees, oral reis, meer vriende hê, beter wyn drink – 'n nimmereindigende kringloop. Selfs opofferings vir die kerk om nog meer goed te doen as waarvoor ons werklik tyd het kan ‘n erestatus as martelaar word vir jou oënskynlike opofferings.


'n Belangrike vraag om te oordink is: Waar vind jou hart rus of wie maak die leegte in hart stil? Hoe sal jy weet as God dit gedoen het?


“God made man simple; man’s complex problems are of his own devising” Ecc 7:30


"Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. Godsaligheid met vergenoegdheid bring groot wins." – 1 Timoteus 6:6-8



Theo Geyser

bottom of page