“It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity, it was the season of light, it was the season of darkness, it was the spring of hope, it was the winter of despair.”
Charles Dickens, The Tale of Two Cities
Woorde van Charles Dickens. En nee, hy het dit nie hierdie jaar geskryf nie. 1859 se koers al. Maar dit kon net sowel vir 2020 gewees het. Die jaar wat ons in kontak gebring het met die beste en slegste dele van onsself. Ek hoor gereeld by mense en ekself kan dit beaam: "ek weet nie wat my besiel het nie" of "ek het heeltemal uit lyn met my karakter opgetree" of "ek kan nie glo wat ek aangevang het nie" of "ek ken myself nie meer nie"...
Johan het verlede week gesels oor Jesus se bloudruk vir verhoudings en ek bly maar so op die tema van verhoudings, want dit blyk oral op die voorgrond te wees, om een of ander rede ... miskien omdat niks in plek voel as my naaste verhoudings wankel nie, miskien omdat ek nêrens tuis voel as ek ontuis voel by my man of vrou of familie nie. Miskien omdat verhoudings die eerste balle is wat ons laat val terwyl ons so alles probeer juggle en in die lug hou. En ongelukkig is die verhoudingsballe van glas gemaak. Die werk en die skedules en die vakansieplanne bons meestal weer terug, maar ons verhoudings word gemaak of gebreek in tye soos hierdie.
"I don't think people have demons, I think they have themselves and things they aren't ready to be honest about yet. It is not easy to come to grips with the fact that we're capable of hurting people with the same instrument we love them with. The heart is a hungry wolf and it is made of glass."
King Longton
Die Bybel is ook in essensie 'n boek oor verhoudings. Ja, God se verhouding met die mens, maar ook oor mense se morsige, modderige (menslike) verhoudings. Ons gaan Sondag gesels oor die hartseerste oomblik in Dawid en Migal se huwelik. Migal, die enigste vrou in die Ou Testament van wie ons ooit lees dat sy 'n man liefgehad het. Natuurlik was daar ander liefdesverhale (sommige wat selfs goed uitgedraai het) maar die man is altyd die jagter of die inisieerder en die vrou eintlik net die prooi of die pion. In Migal se geval lees ons: "Maar Migal het Dawid liefgekry en toe hulle dit aan Saul meedeel, was die saak in sy oë reg ..."
En toe begin vergeet Migal en Dawid geleidelik hoe om man en vrou te wees vir mekaar, Dawid word koning en Migal, die prinses, word 'n politieke pion op die skaakbord van hulle tyd. En 'n leeftyd se verbittering gekombineer met een aand se harde woorde waarin die honger wolwe kos gegee word en die glas val, en twee mense word vreemdelinge vir mekaar vir altyd...
Stephen Dunn het ons herinner:
No one should ask the other
"What were you thinking?"
No one, that is,
who doesn't want to hear about the past
and its inhabitants,
and the strange loneliness of the present."
Dit was nie net een onbesonne oomblik wat gelei het tot hierdie hartseer toedrag van sake nie. Dawid en Migal het 'n geskiedenis en die geskiedenis is nooit genees nie. Die gevoelens is nooit gevoel en toegelaat om deur hulle te vloei nie. Dis opgekrop en het versteen en is op hierdie oomblik uitgespoeg as klippe. En Dawid ken van klippe slinger. Hy't 'n reus met 'n paar kleintjies doodgegooi. Omdat hulle twee nie bereid was om te deal met die verlede en al sy inwoners nie, was hulle ongelooflik alleen en verlate in hierdie oomblik.
Harold Kushner skryf: wat Dawid en Migal op daardie oomblik nodig gehad het was 'n daad van opregte teshuvah ('n Hebreeuse woord wat rofweg as "draai" of"terugkeer" vertaal kan word), nie net bekering of belydenis nie, nie net sleg voel oor wat hulle gedoen het nie, hulle het dit gedoen. Opregte omdraai reik tot in die diepste deel van jou siel sodat jy kan sê: "Ek hou nie van die mens wat ek was toe ek dit gedoen het nie en ek wil nooit weer daardie mens wees nie." Nie "ek sal dit nooit weer doen nie" maar "ek wil nooit weer die mens wees wat dit doen nie" Dis meer as 'n verandering in gedrag, dis 'n nuwe mens. Dis 'n terugkeer, 'n tot verhaal kom.
'n Return to Sender.
Opregte omdraai is 'n leefstyl, nie 'n one time deal nie. Ons het nooit genoeg gearriveer om nie weer en weer om te draai nie. Ons moet oefen en oefen om om te draai, soos 'n danser - double pirouette. En dansers sal weet: as jy begin om jou pirouette te oefen, moet jy 'n vaste punt hê waarop jy fokus, waarop jou blik ingestel is. Jy kan nie net draai nie, dan gaan jy val. Jy moet iewers heen draai. Daar moet 'n onbeweeglike punt wees terwyl jy draai. En God is natuurlik die vaste punt, die Rots, maar die harde plek onder ons voete - die aarde en sy mense - dis hoe ons oefen om oor en oor om te draai. Dis waar die tyre die teer slat. In ons naaste verhoudings. Daar waar ons weet die mens voor my se hart is 'n honger wolf én is gemaak van glas en met daai hart kan hy of sy my liefhê én verwond.
Hoe meer ek aan die ontvangkant van vergifnis staan, hoe meer ek diep berou betoon en anderkant my klein gedagtes leef, hoe meer ek omdraai, hoe meer kan ek liefhê, hoe groter is my kapasiteit om lief te hê. Jy kan nou so mense bekyk wat goeie lovers is, en ek praat nie (net) van tussen die lakens nie - liefhebbers van die lewe! - dan kan jy maar weet: hulle geheim is dat hulle al baie vergewe is. Dat hulle al meesters in esse kap, in omdraai is.
Ons kan niks te bowe kom wat ons nie ook insluit nie.
Geskryf deur Frieda van den Heever