Geestelikheid word die beste verstaan binne die konteks van pyn. Daarom het die meeste groot godsdienste hulle ontstaan uit die worsteling om pyn te verklaar. Die Christendom se boodskap is ten diepste gesetel in die verstaan van pyn en daarom staan die kruisdood van Jesus sentraal in al die gebeure.
‘n Mens sou tog wou gehad het dat die opstanding van Jesus uit die dood die finale uitwissing van alle pyn en swaarkry beteken. Baie predikers belowe ook so utopia aan mense waar genesing en sukses hulle reg is. Tog verskyn Jesus na sy opstanding nog met sy wonde, en daardie wonde word Thomas se genesing.
Wonde is ‘n kragtige teken wat ons herinner en uitnooi na die opstanding. Richard Rohr skryf so daaroor:
“The place of the wound is the place of the healing. The place of the break is the place of the greatest strength. That is why Jesus himself, even in his resurrected body, reappears with the wounds still in his hands, in his side, in his feet. They do not disappear as you might expect.”
Wanneer ek in ‘n doring trap, kompenseer ek dalk deur mank te loop sodat die pyn nie so erg is nie. Net so kompenseer ons met ons emosionele, psigiese, geestelike en fisiese verwondings of pyn wat ons dra. Ons leer nuwe gedrag aan waarmee ons oorleef. So terloops, die Enneagram is seker een van die beste instrumente wat jou bewus kan maak van hierdie oorlewenigsmeganismes.
Ons gaan Sondag gesels oor intellektuele pyn. In Brian McLaren se boek “Adventures in missing the Point” sê hy die volgende: “Intellectual pain is an underrated cost of following Christ.”
Ons gaan kyk hoe om Jesus te volg te midde van twyfel en hoe gevaarlik die narkose van sekerheid is wat ons blind hou vir ons eie verwonding.