Hoekom is ons verras dat Christus eerste aan Maria Magdalena verskyn het na sy opstanding? Sy staan in die plek van menslike hunkering en almal wat beskou is as "sondaars". Dit lyk amper of al die Marias van die evangelie in haar saamgevat word op hierdie punt van die ontknoping van die verhaal. Richard Rohr skryf dat Jesus duidelik hiermee wil sê: "the very failures and radical insufficiency of our lives are what lead us into larger life and love". Asof hy vir al die mans wat vinger gewys het na haar wou sê: Julle is almal verkeerd oor God.
Sy begryp dit, en julle nie.
Die gedeelte oor hierdie fassinerende verskyning van Christus aan Maria Magdalena begin met 'n interessante woord. 'n Woord wat elke goeie Afrikaanse onderwyser jou sou leer om nooit 'n sin mee te begin nie, wat nog te sê 'n paragraaf of 'n kortverhaal. MAAR. Wat altyd dui op 'n teenstelling: "MAAR Maria Magdalena het buitekant by die graf gestaan en ween; en terwyl sy ween, buk sy na die graf toe ..." Die vorige skrifgedeelte eindig met die woorde: "EN die dissipels het weer huis toe gegaan."
Die hoopvolle, die moedelose, die gebroke, die geringe in die oë van mense bly agter en word die eerste mens aan wie die opgestane Christus homself openbaar. Heeltemal teen verwagting in. Dit is haar gebrokenheid wat haar na God lei. En so word sy die ikoon en argetipe van liefde self - "needed, given, received, and passed on", soos Rohr sê.
Sy begryp dit, en julle nie.
MAAR Maria Magdalena begryp dit so volkome dat sy nie wil afstand doen daarvan nie. Sy wil aan Jesus vasklou, hom nie laat gaan nie. En Jesus, wat nooit stop by ons gemak of kortstondige geluk nie, wat nooit net by intimiteit eindig nie, maar altyd verder gaan - verder leer oor ware metamorfose - leer haar seker die seerste les van haar lewe. Daai mooi seer, die seerste seer, van afskeid neem juis omdat ons so lief is vir iemand.
Ek het myself in Maria Magdalena se skoene probeer verplaas en hierdie song geskryf oor hierdie seer herontmoeting, die pyn van laat gaan:
"Hier staan jy nou
Langs jou eie graf
Hier staan jy nou,
springlewendig en glimlag
Hier staan ek voor jou
Ek het jou regtig verlang
Hier staan ek voor jou
Kan jy nie sien hoe ek hang
Tussen hemel en aarde
Here, hou op smile
Jy kan mos sien waardeur ek gaan
Of het ek ‘n spook gesien
Is dit ‘n siek grap wat my tydelik pamperlang
En jy lig nie jou vingers nie
Jy steek nie jou arms uit nie
Kan jy nie sien ek is bang
Bang om jou weer te laat gaan
Laat gaan, my lief
Laat los en val sag, my lief
Hoe klou jy vaster aan ‘n verlosser
As ek reg voor jou staan
Los my
Dat ons saam kan gaan
Meester, jy tree terug
Ek kan nie kop of stert uitmaak wat jy bedoel
Waar’s die man wat my altyd veilig kon laat voel
Ek wil aan jou lyf vasklou
jou menslikhede, ons verlede
Ek wil jou naby hou
Vir altyd, in hierdie vel van jou
Laat gaan, my lief
Laat los en val sag, my lief
Hoe klou jy vaster aan ‘n verlosser
As ek reg voor jou staan
Los my
Dat ons saam kan gaan
My lief, ek verstaan hoe tough dit is om te los en te laat wees
My lief, ek verstaan, want ek is woord én ek is vlees
ek belowe jou, belowe jou,
daar’s meer as dit waar ek heen gaan
En ek vat als van jou wat los is saam
Ek vat als wat los is saam
Als wat kan laat gaan
Jy gaan vir die eerste keer voel wat ek bedoel
As ek deur elke aar en elke blaar op aarde spoel
Hou op sê jy’s lief vir my
Jy’t nie ‘n clue wat dit behels
Die dag as ek jou werklik kan omhels
sal elke stukkie van jou wil losbars
en ons uiteindelik saamsmelt
Nou’t ek jou verloor
Jou verloor in hoe ek jou gehad het
Dit wat ek kon sien, kon soen en wat my verlaat het
Maar ek begryp
Ek begryp
As ek jou vasgryp
Kan ons nie vlieg nie
Maar ek gaan nie vir jou lieg nie
Dis tough om te laat gaan
Hier tussen die ooievaar en die eendagdaar …"