Een naweek, op Swart Vrydag, het alles verander.
‘n Paar dae later strompel twee ontnugterde jongmense voort op ‘n paadjie van ongeveer 14 km lank, van Jerusalem na Emmaus. Hulle loop stadig, met min woorde en baie seer. Hulle seer is daar vir ‘n rede. Hulle Messiasdroom is verongeluk. Nou het vrees en rusteloosheid in die plek van die droom kom woon.
Vrees, nie omdat hulle bang was dat hulle dalk self ook gekruisig gaan word nie, maar eerder ‘n vrees wat reeds gerealiseer het. Die magteloosheid wanneer jou drome verpletter word. Om te glo en te hoop vir absoluut niks… Hoop wat beskaam hoort eerder by kinders en nie in die kader van realisme waar grootmense hulle merk moet maak nie. Hierdie jongmense se droom het immers as tieners begin, die brose tyd waar ons almal maklik kan droom en glo.
Tog is daar iets wat hulle nie kan los nie, al is hule verpletter. Hulle hou nog aan praat oor die droom. Die droom los hulle nie. Die moontlikheid van ‘n Jesus wat wel nog lewe, neem hulle gedagtes steeds gevange.
Is dit nie wanneer ons die minste verstaan, die moeilikste kan vertrou dat ons die naaste is aan vertrou en om weer te kan droom en glo nie?
Dit was so met die Emmausgangers. Die dorpie Emmaus is niks anders as ons huidige wêreld wat esteties, romanties, emosioneel en godsdienstig ons verlore drome elke dag aan ons terugspieël. Hoop word daagliks vervang met wanhoop, geloof met ongeloof en verdraagsaamheid met onverdraagsaamheid.
Ons gesels Sondag oor hoe verlore drome weer uit die dood kan opstaan.
Theo gesels Sondag by InVia Stellenbosch by die Protea Hotel om 10:00 oor drome wat weer kan opstaan.