Birds don't sing because they have answers, they sing because they have songs.
Maya Angelou
Hoe meer ek veronderstel is om te weet (want: ouderdom), hoe minder weet ek. Ek voel daagliks minder gemaklik met die spel van absolutes wat baie mense speel en so op die oppervlak lyk of hulle dit geniet. Maar ek kan getuig hiervan (nie omdat ek dit iewers gelees het nie; omdat ek dit op die harde manier geleer het):
dis eers na die wiskunde, wat die aftermath kan begin.
Ons mense is so bedraad om te wil verstaan, om te wil sin maak, om te wil begryp, om betekenis te skep uit oënskynlike chaos, om dinge te wil uitfigure … en hierdie missie verloop redelik glad terwyl alles wat sleg of onverklaarbaar is op die TV gebeur, of met mense van mense wat jy ken. Dis eers wanneer jy verlies of die moontlikheid daarvan aan jou lyf ervaar, wat daar sekere goed is wat jy weet jy weet jy weet: I cannot wrap my head around this.
Die soms kompulsiewe drang om dit steeds te wil doen, gaan natuurlik nie onmiddellik weg nie. As ek net kan uitfigure hoe dit gebeur het, hoe hy dood is, wat die regte oorsaak was … as ek net kon weet, dan sou ek rus vir my siel hê. Wat nie waar is nie, julle. Wanneer mens besef dat die las van die uitfigure die eintlike steler van die vrede is, verander alles.
Die vraag wat die meeste gevra word as mense ‘n geliefde aan die dood afstaan, is: Waar is hy? Jy sou kon dink dat net ongelowiges so vraag vra, maar dis ‘n vals aanname. Niemand word oorgeslaan met die bediening van die “waar is sy?” nie. Voor dit met jou gebeur, is dit eenvoudig. Weg (as jy glo in niks) en in die hemel (as jy glo in alles). En dan, op die dag wat jou brein in stukke voor jou lê – seker in ‘n poging om jou hart gaan optel – is dit nie meer so eenvoudig nie. Dan besef jy jou klein menslike verstaan van ruimte en tyd is inderdaad te klein.
Die dag na my man se dood, moes ek besluit of hy veras word en of sy liggaam gestuur gaan word vir ‘n nadoodse ondersoek. Alles in my kop wou weet: Hoekom is hy dood? Wat het gebeur? My vriende het my aangemoedig om die ondersoek te laat doen omdat daar soveel vrae was oor sy behandeling en ‘n hele paar goed wat my vir maande daarna nog laat wakker skrik het in die nag. Almal was verslae, kwaad, honger vir antwoorde – iemand om te blameer, te beskuldig, te veroordeel. Enigiets behalwe hierdie verskriklike pyn in die bors. Die angs van “wie’s volgende?” Want jy sien, ons vra dikwels onbewustelik “Hoe’s hy dood?”, “Wat het gebeur?”, “Het hulle geskei? Wat het fout gegaan?” omdat ons wil probeer uitfigure wat om nié te doen nie. Hoe kan ons die dood vryspring? Hoe kan ons ‘n egskeiding voorkom? As daar ‘n oorsaak en ‘n diagnose en ‘n formule is, hoef ek nie met die ongemak van onsekerheid en wonder en vrae te leef nie.
Maar op daardie dag was die tekstuur van die kruispad waarby ek gestaan het, so duidelik vir my. Ek kon albei paaie ruik, ek kon dit hoor in die ore onder my ore en ek het die pad gekies wat my gevul het met vrede. Ek het iewers in my ‘n stem gehoor sê, “Die oorgee aan nie-weet-nie, IS liefde.” Min mense het verstaan en ek dink dit kon interpreteer word as opgee. Maar dit was nie, dit was die grootste fight wat ek nog opgesit het vir liefde. Ek het geweet as ek die ander pad kies, sou dit wees om my pyn en my verslaenheid en my beperktheid en my menswees verder weg te skuif. Ek moes in, nie om nie. En so het ek geleer hoe die hele heelal somtyds in ligte laaie opgaan as een mens sê, “Ek weet nie.” Hoe alles begin vibreer met moontlikheid en magiese wonderwerke as een mens erken (skree, huil, sing) “Ek weet nie.” Hoe dit my eenvoudigste, mees betekenisvolle spiritual practice geword het – kyk hoeveel keer ‘n dag jy kan sê ek weet nie. Nie altyd maklik vir ‘n ma, ‘n predikant en ‘n teacher nie. Hoe die rus in die onwis lê. Want om alles te wil weet of van beter te weet, maak mens diep ongelukkig, gefrustreerd, onvergenoegd en angstig. Vat dit van ‘n survivor, wat dikwels steeds wroeg met hoe aanloklik dit lyk om die antwoorde te wil vind, ten koste van my vrede en ten koste van liefde: Die lewe kry kleur as mens die vrae begin leef. Curiosity (nuuskierigheid sit nie vir my reg nie) en angs kan nie in dieselfde oomblik saamleef nie. Soos liefde en vrees.
Ek het gister vir ‘n paar ure langs ‘n pragtige jong vrou op ‘n bank gesit wat onlangs haar ma aan ‘n wrede dood afgestaan het. Wat haar vandaankom en haar heengaan met nuwe oë moet bekyk. Sy sou kon doen met ‘n paar antwoorde, ek weet. Maar “ek weet nie” was die enigste sekerheid en diep verbondenheid tussen ons.
Ek sou kon aan en aangaan oor hoe die kerk in sy gekommersialiseerde vorm, baie meer klem op sekerhede as op misterie begin plaas het. Ek het lank geworstel daaroor of ek my voltyds sou kon “begewe” in georganiseerde geloof (dis ook hoekom ek dit steeds so ongeorganiseerd moontlik hou!), juis omdat ek my dit nooit sou kon veroorloof om sekerhede te verkoop nie. Die vraag is: hoekom sal mense nie gaan soek vir die “gebrek aan antwoorde” in ‘n kerk nie? Ag, seker maar omdat ons skynbaar al die antwoorde het. Al die antwoorde. Al die sekerhede. Die instelling wat gebou is rondom dit wat anderkant menslike begrip is – Misterie – het geval vir die “trap” en sukkel steeds om daar uit te klim.
So verduidelik ons God weg.
So preek ons Hom stom.
So verloor ons Hom in vertalings.
Geloofsekerheid is een van die grootste oksimorons denkbaar as mens die definisie van geloof, soos Paulus dit in Hebreërs 11 uitlê, gedagtig hou:
By faith, we see the world called into existence by God’s word, what we see created by what we don’t see.
Ons sal Sondag verder daaroor gesels, maar hier gaan ek volstaan met Rainer Maria Rilke se tydlose advies:
Living the unresolved
I beg you . . . to have patience with everything unresolved in your heart and try to love the questions themselves as if they were locked rooms or books written in a very foreign language. Don't search for the answers, which could not be given you now, because you would not be able to live them. And the point is, to live everything. Live the questions now. Perhaps then, someday for in the future, you will gradually, without even noticing it, live your way into the answer.
Ek smeek jou … om geduld te hê met alles wat onopgelos in jou hart lê. Om die vrae lief te hê asof hulle geheime kamers is, of boeke geskryf in vreemde tale. Moenie soek vir die antwoorde wat nie nou vir jou gegee kan word nie – jy sal in elk geval nie weet hoe om hulle nou te leef nie. En dis juis die punt – om alles ten volle te leef, te beleef, te deurleef. Leef nou die vrae. Miskien, op ‘n dag in die toekoms, sal jy dan stil-stil, onopgemerk, sonder dat jy dit eers agterkom, jou pad in die antwoord in leef.
Frieda van den Heever