top of page

Palm Sondag: Ontwapen



Matriekafskeide in Stellenbosch is een groot affêre. In my tyd (nie té lank gelede nie), het manne gefokus op hul haarstyle. ‘n “Peroxide mowhawk” was die in-ding omdat skoolreëls vir haarstyle nie meer van toepassing op eindeksamen-matrieks was nie. Die dames het gefokus op hul rokke en skoene. Vandag is die klem op hoe en met wat jy by hierdie geleentheid arriveer. Ek weet van mense wat nie eens kinders in matriek het nie wat na skole gaan om te gaan kyk in watter sport- of klassieke motors die matrikulante aankom.


Hoe Jesus vir sy intog in Jerusalem arriveer is volgens hierdie standaarde ‘n reuse anti-klimaks. Hy leen ‘n donkie om as “voertuig" vir sy intog in Jerusalem te gebruik. Mense gooi takke en kledingstukke op die pad voor hom uit, nie ’n rooi tapyt nie. Hulle jubel en juig want almal glo die Messias is hier!


Vir die Jood wat hierdie sou aanskou sou die profesie van Sagaria voor hul oë afspeel:


“Jubel, Sion! Juig, Jerusalem!

Jou koning sal na jou toe kom.

Hy is regverdig en hy is 'n oorwinnaar,

hy is nederig en hy ry op 'n donkie,

op die hingsvul van 'n donkie.”

Sagaria 9:9


Hulle is opgewonde want Jesus kom om hulle van die Romeinse onderdrukking te verlos! Hulle het 'n politieke en nasionalistiese leier verwag, miskien 'n gewelddadige sosiale hervormer. Maar Jesus het geen wapens nie. Op teenoorgestelde wyse kom Jesus om homself te gee vir iets baie groters as die “jubels” en “Hosannas”. Hy word nie gedryf deur die strewe na mag nie. Jesus besluit weer om hierdie versoeking wat ook in Sy woestyntydperk kom besoek aflê het, teen te staan. Hy kies om die “gestalte van ‘n slaaf aan te neem”. “Dieselfde gesindheid” van diensbaarheid moet in ons ook wees (Filipense 2:5-11).


Jesus tree Sy roeping so in. Die pad wat lei na Sy dood. Die vraag is: hoe doen óns dit?


As ons hierdie gesindheid wil aanneem, kan ons nie op ’n perd en goue koets wat deur konneksies, geld en allerhande ander ego-strewes bekom is, arriveer nie. Ongelukkig bestaan die realiteit ook dat ons op ’n donkie kan arriveer, maar eintlik is die donkie ’n resiesperd wat soos ’n donkie vermom is.


Hoe ek en jy aantree vir die reis van diensbaarheid, sê/wys/illustreer met watter gesindheid ons gaan leef.


Sondag herdenk ons saam met kerke regoor die wêreld Palm Sondag. Dit merk ook die begin van Heilige Week met Goeie Vrydag en Opstanding Sondag wat oor Paasnaweek plaasvind.


Ons gaan Sondag gesels oor hierdie gesindheid en vra wat is dit wat ons moet neerlê om soos Jesus vir ons roepings te arriveer.


"No one needs a stallion for a journey with crucifixion at its end. For this purpose, a donkey is perfectly fine.”

Eleanor Trump


- Deur Francois van der Merwe

bottom of page