My liggaam het 'n opstanding nodig...
- inviagemeente
- 2 days ago
- 2 min read

Dis moeilik om te glo dat God my liggaam heilig noem. Hierdie lyf met sy pyn, sy skaamte, sy begeertes. Maar dis wat Jesus kom wys het: dat God nie afgeskrik word deur vel of trane nie. Sy wonde was nie iets om te verberg nie. Hy het hulle selfs uitgenooi na die opstanding met hierdie woorde: “Kyk na my hande en voete... raak aan My en kyk; ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.” (Lukas 24:39).
Dis so radikaal en so intiem.
Jesus het nie net vir ons gesterf nie. Hy het vir ons geleef. In ’n liggaam. En toe Hy opgestaan het, het Hy daardie liggaam saam met Hom gebring. Vol littekens. Vol stories van hoop. Die paradoks van geloof is dat ons altyd op soek is na die onsigbare, terwyl God Homself openbaar in die tasbare. Die vleeswording herinner ons dat die geestelike nie ’n ontsnapping uit die liggaam is nie, maar 'n verdieping daarin. Ons het die rigting omgekeer – asof ons liggaam die probleem is en die gees die oplossing.
Het jy al ooit gewonder hoekom jy jouself soms afgesny voel van jou eie liggaam? Dis dalk omdat ons geleer is om ons liggame te sien as iets buite onsself — iets wat ons moet beheer, verander of regmaak.
Maar jy is nie net ’n gees in ’n liggaam nie. Jy is jou liggaam. En jou liggaam is ’n tempel.
Ja, 'n heilige ruimte.
As jy hierdie waarheid mis, gaan jou liggaam vinnig 'n tempel word vir als wat die wêreld nou aanbid. Kyk net rondom jou – ons is behep met die perfekte lyf. Mense gooi klomp geld en energie om die ideale liggaam te kry. Elke dag word duisende liggame op Instagram en TikTok vertoon soos trofees. Plastiese chirurgie is so algemeen soos 'n haarsnit deesdae. En die lys hou net aan.
Jou abs, jou likes of jou loopbaan hoef nie jou tempel te wees nie. Dit sal nooit die lewe bring wat jou liggaam van jou vra nie.
Ons is ewig, en ‘n opgestane liggaam kan ‘n groot verskil in jou lewe maak.
En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. Rom 8:11-17
- Theo Geyser