Wat is jou diepste verlange – veiligheid, betekenis, of dalk blydskap?
Dit is om te KEN en GEKEN te word.
Jesus sien ‘n lewe wat ewig is as die ken en verstaan van God: “…dit is die ewige lewe dat julle Hom kan ken. (Joh 17:3). Hoe leer ek iemand ken? Deur vrae soos: Waar woon jy? Waar kom jy vandaan? Dit is die rede waarom God soveel vrae vra. Jesus vra meer as 300 vrae, en antwoord net 3 van die vrae wat hy vra.
Ons gesels tans oor twee belangrike vrae wat ons moet antwoord om jouself, ander en God te verstaan:
Waarheen is jy op pad?
Met wie?
Indien ek glo dat ek nie net fisies en psigies aan ander verbind is nie, maar ook geestelik, sal 'n geloofsgemeenskap onmisbaar wees. Ek hoor dikwels mense sê hulle is op soek na 'n kerk. Ek probeer dan altyd beter verstaan wat hulle presies soek: Ideologiese tuiste? Status? Identiteits bevestiging? Of, geloof as nuwe mode? En daar is nog legio redes waarom ons onsself vebind aan mense.
Noem dit die gom.
Veel van ons het steeds die bitter nasmaak van die gom van belofte wat gekrimp het en die droom van ‘n gemeenskap waar ek myself, ander en God kan leer ken, verraai. En ongelukkig het hierdie geestelike "hangover" baie se geloof weggeëet.
Sondag praat ons oor die gom wat verhoudings laat lewe. God is immers 'n vloei van lewende verhoudings, nie 'n abstrakte idee of bloot 'n geloofsverklaring nie. Hy is Drie-en-Een, binne wie ek asemhaal, vloei, en kan oorgee wat my help om uniek en apart te wees, maar ook een te wees, waarbinne ek myself, ander en God beter kan leer ken.
As dit maklik was sou daar nie soveel slagoffers van geloof gewees het nie. Dit is harde werk.
“You can develop a healthy, robust community that lives right with God and enjoy its results only if you do the hard work of getting along with each other, and treating each other with dignity and honor.” Gal 3:18.
Maar daardie harde werk bring iets magtigs: ‘n gevoel van behoort, van werklik deel wees van iets groter.
Dit laat ons die gom van liefde voel.
- Deur Theo Geyser