Van kleins af leer ons hoe belangrik dit is om goed te vang - balle, somme, geleenthede, grappe. En hierdie "waarde" word ook dikwels gevestig in ons geestelike lewe. Ons probeer God "vang", begryp, uitpluis. Selfs in die kerk is die fokus meestal daarop dat óns God moet leer ken, dat óns na Hom moet kyk. Dis seker nie heeltemal verkeerd nie, maar Jesus en Paulus sê by geleentheid dat daar 'n fyn, maar deurslaggewende fokusverskuiwing is in ons verhouding met God (of dan, Die Lewe) nl. dat ons deur God geken moet word. Dat ons onsself moet toelaat om deur God gesien en geken te word. Dat ons altyd aan die ont-vangkant van God staan.
Ek dink kerke sou veel voller gewees het as ons mense kon leer dat ons God nooit kan vang nie, bloot kan ont-vang. Of miskien veel leër, want dan sou niemand niks gehad het om te bewys nie en die ego sou geen beloning kry uit kerk toe gaan nie.
Dis nie iets wat natuurlik kom vir meeste mense nie. Kinders kry dit nog soomloos reg om met vreugde te ontvang, maar ons grootmense sukkel. Omdat dit nie volwasse voel nie. Die volwasse ding is om selfversorgend en onafhanklik te leef. Ontvang het slegte konnotasies: die ontvanger van inkomste, die bakhandbedelaar...
Maar Jesus het ook geleer dat ons nie kan gee as ons nie eers ontvang het nie. Dat ons nie oorvloedig kan leef as ons nie eers Sy in-vloed ervaar het nie. Dat ons eintlik altyd kwesbaar en bakhand voor God staan, of ons nou wil of nie. Altyd afhanklik van Hom leef. Om Hom toe te laat om ons nie net te sien nie, maar na ons óm te sien, is 'n geestelike oefening wat nederigheid kweek. Ontvanklikheid is die teenvoeter vir self-help.
Daar is natuurlik ook 'n groot verskil tussen ontvanklikheid en aanspraakmakerigheid ("entitlement"). Om te vereis dat daar na my gekyk word, dat ek dit trouens verdien en nie 'n vinger hoef te lig nie, is die teenoorgestelde van ontvanklikheid. Suiwer ontvanklikheid vloei uit teenwoordigheid en verantwoordbaarheid. Om teenwoordig en verantwoordelik te leef juis omdat die geskenk van genade so groot is dat jy nie daarop kan lê en slaap nie.
Iemand skryf die volgende oor Thomas Merton se verstaan van hierdie teenwoordigheid:
It refers not only to the agency or grace of Christ, hidden but dynamically present in the lives of people everywhere. It also refers to the agency of God-filled human beings, the vocation of every Christian to be the presence of Christ for others in love, mercy and friendship. It is a call not only to love but to be loved by others. Both aspects of presence - to (actively) love others and to (receptively) allow oneself to be loved - were crucial lessons Merton learned in the last decade of his life. "What we must really do is live our theology. This is the same message with which St. Paul exhorted the early Christian community: "Let the same mind be in you that was in Christ Jesus."
Ons gaan Sondag gesels oor 'n ontvanklike gesindheid en hoe om dit te kweek. Om God te ontvang, mekaar te ontvang en vreemdelinge te ontvang. Om God te eer as die Groot Doener, wat uit Sy Wese vloei en om te oefen om "aan gedoen te word". Richard Rohr sê dikwels: "God is being done unto us." En daarin lê die genade.
The aim of prayer is not to find Him as an object in our minds but to find ourselves in Him. The task is not to know the unknown but be penetrated with it, to expose ourselves to him, not to judge and assert but to listen and be judged by him. And ultimately it is not the words we say but the consciousness of our poverty, of "speaking under His eyes" that makes our prayers into hyphens between heaven and earth.
Abraham Heschel