Elke lewe het ‘n einde. Jesus het geleer dat die einde van ons lewe baie belangrik is en dat ons daarvoor moet voorberei. Die ou kerkvaders het gepraat van die kuns van die dood en nie die kuns van die lewe soos wat elke dag aan ons verkoop word nie. Ons behoort verder as aftrede te dink aan ‘n lewe wat God vir ons voorberei het. Dood is nie die afsterwe of vernietiging van lewe nie, maar eerder die voortsetting daarvan. Daarom praat Paulus eerder van die ontslapenes.
Jesus vertel ‘n storie in Lukas 12 waar iemand baie goed voorberei het om hier op aarde verantwoordelik te leef. Hy is nie skelm nie. Hy doen niemand in nie. Hy is uiters suksesvol. Maar dan noem Jesus hom ‘n dwaas, omdat hy geestelik arm gaan sterf. Wat het sy siel versmoor en geëis? Goed. Ons goeters het alles met God te doen. Hy was ‘n ‘stuffaholic’. In Johnny Clegg se woorde net voor sy dood: “Unfortunately when we have too much stuff – our inner compass does not cooperate.” As Jesus begin met die woorde Pasop! dan is dit presies hiervoor. Ons gesels Sondag by die Protea Hotel om 10h00 oor die moeilike gelykenis van die dwaas en hoe ons ryk in God kan wees deur nie bymekaar te maak nie, maar eerder te gee.