top of page

Lent: Hoe luister ek na God?



Sondag is die veertigste dag van Lent. Die titel van ons dagstukkie is Kontemplasie, en dit is sekerlik 'n woord wat jy al dikwels by InVia gehoor het. Kontemplasie beteken ‘n liefdevolle kyk, of om saam met God na die wêreld te kyk. Die Hebreërskrywer verwoord iets hiervan: “Die oog gevestig op Jesus, die Leidsman…” (Heb 12:2). Die stilte van die woestyn help ons om ons aandag op God te vestig, sodat Hy ons kan wys wat ons regtig nodig het in hierdie lewe.

 


Hierdie bewustheid of wete kan ons God se stem noem.


Lent is die tyd waar ons nader kom aan die stemme waarvan ons dikwels nie bewus is nie, en om na God se stem te luister. Hierdie gedagte maak ook seker baie ons skepties. Ons ken almal die tannie of oom wat ‘n direkte lyn hemel toe het. Ek weet party mense het selfs ’n direkte lyn vir parkering. 


Al maak baie mense hierdie ervaring goedkoop beteken dit nie dat dit nie bestaan nie.



Lent help ons om te weet waar ons God se stem kan hoor. Nie in die dinge wat ons wil hê of in dogmas wat God moet bevestig nie, maar eerder in die stemme wat vir ons sê wie ons regtig is. Die versoeking wat Jesus ervaar het, gaan oor die stemme wat sê: “Jy is omdat jy het” (sekuriteit), “Jy is omdat jy oulik en buitengewoon is” (aanvaarding), en “Jy is omdat jy invloed het” (mag). As Jesus gesukkel het om dit te verstaan, sal ons dit ook nie maklik vind nie. Dink maar aan hoe vinnig die dissipels Jesus verwar het met hul eie behoeftes:


  • Sekuriteit: "Jesus antwoord hulle en sê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My nie omdat julle die tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet het en versadig is." Joh 6:26


  • Aanvaarding: "Tog het selfs baie van die lede van die Raad in Hom geglo, maar weens die Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie. Hulle het die eer van mense meer liefgehad as die eer van God." Joh 12:42-43.  


  • Mag: “Julle glo net omdat julle tekens sien…” Joh 4:48



Dalk kan ‘n beeld jou help wanneer jy werklik wil luister na God. Ons dink dikwels aan ‘n radio wat ons vinnig inskakel om direkte inligting van God te kry. Maar dink eerder aan ‘n bergklim. Die groot ontmoetings met God in die Bybel het op berge gebeur. Dit begin by die “basecamp,” waar daar min suurstof is en waar jy moet aanpas en klimatiseer. As jy wil klim, moet jy alles los wat jou keer om by die bergtop uit te kom. Die bergtop is jou vergrootglas – God se teenwoordigheid, wat jou help om te sien wat jy regtig moet sien. Harmut Rosa sê dat wanneer jy binne 'n roostuin stop om die rose te bewonder, dit nie gaan oor die feit dat jy stop of pause nie, maar oor die ervaring van die ruik, aanskouing, en die verhouding wat jy met die skepping aanknoop.


Jesus maak keuses omdat Hy God sien, homself sien en ook sien wat die nood van die wêreld van Hom vra. Hierdie balans tussen hemelse wysheid, selfkennis en naasteliefde bied ons 'n bloudruk vir ons eie besluitneming.


"The voice of God is always more present and active than we realize, but it is often a whisper in the chaos of life." Richard Rohr



"The soul is not a thing to be understood; it is a place where we listen to God." Parker Palmer



- Theo Geyser

bottom of page