Jesus is ‘n lewende gelykenis van dit waarvoor ons bid as ons vra dat die koninkryk en God se wil moet kom. Hy kom in ‘n versteekte fetus en 'n vuil stal. Als groei en ontwikkel stadig. Sy partytjies en feesvieringe is nie vir almal nie, want nog niks het verander in Israel se omstandighede nie.
Jesus praat 2 keer oor die kerk en 55 keer oor die koninkryk van God.
Waarom het Jode dit so misverstaan? Dalk vir dieselfde rede as wat ons dit sal misverstaan. Ons dink dat God se koninkryk iets ekstern is. Hulle verwag ‘n koning wat die Romeinse koninkryk verslaan, hulle verlos uit ballingskap en die tempel herbou. Hierdie verwagting is so oud soos 1 Samuel 8, waar Israel ander volke wil na-aap en eis dat hulle ook ‘n koning wil hê. Die Here het nie gedink dat dit ‘n goeie versoek is nie, en herinner Samuel aan hoe maklik Israel die wil van die Here verwar het met die wil van mense.
Jesus leer jou om op ‘n ander manier te soek en te bid vir die koninkryk. Jy bid en soek na iets wat versteek is. “Aan julle is die insig in die geheim van die koninkryk van God gegee; maar vir dié wat daarbuite is, bly alles net by gelykenisse…” (Mark 4:11). Jy soek na iets wat jy slegs kan ontvang as ‘n geskenk. “…want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee (Luk. 12:32). Jy kry dit nie daar-buite nie, maar hier-binne. “En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.” (Luk. 17:21).
Dit sluit die kerk in, maar is groter as die kerk. Dit is nie ‘n evangeliese strategie om in die hemel in te kom nie. Dit is om hier op die aarde iets van die hemel te maak. Ons bid vir God se lied, gedig, film, webtuiste of dans in die hier en nou, wat barmhartigheid, regverdigheid, vergifnis, en ‘n inklusiewe liefde moontlik maak.
Dan is dit nie meer ‘n misterie nie, maar ‘n lewende werklikheid dat God self regeer!