Ek het 'n paar keer hierdie vakansie na Koos du Plessis se lied "Kinders van die Wind" geluister. Elke keer wanneer ek na hierdie lied luister, word ek geraak deur 'n klomp emosies. Koos kon goeie en ook diep vrae oor die lewe vra. Met die verloop van 'n mens se lewe word die groot lewensvrae nie meer fluisteringe nie, maar 'n duidelike gesprek wat ons nie meer kan ignoreer nie. Koos het al vroeg in sy lewe met die groot vrae geworstel.
Sy musiek, net soos die woorde van Prediker, weerspieël die menslike wroeging van 'n verganklike lewe wat ook soms betekenisloos kan wees, 'n "gejaag na wind."
Die beeld van wind dra 'n besondere dubbelsinnigheid in ons geloofsreis.
Aan die een kant is daar die "gejaag na wind" waarvan Prediker praat - die skynbaar sinnelose najaag van verganklike dinge. Maar daar is ook die wind van die Gees, daardie geheimsinnige krag waarvan Jesus met Nikodemus praat: "Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is."
Die wind is nie meer dit wat ek najaag nie, maar die krag wat my dra.
In stede van 'n windjaer, 'n windreisiger.
Jesus vertel hierdie storie in Joh 3 en dit word die wedergeboorte van Nikodemus genoem. Dit is nie 'n verhaal wat gaan oor 'n resep om in die hemel te kom nie. Dit gaan om die wind raak te kan sien in jou lewe. Daarom Jesus sê uitdruklik in vs 3 as jy nie hierdie nuwe lewe ontdek nie, sal jy nie die koninkryk van God "nie kan sien nie." Wedergeboorte beteken bloot om die nuwe te herwin wat ek nog altyd gehad het (of om weer gebore te word na wie ek nog altyd was). Wedergeboorte word dan 'n herontdekking van ons ware identiteit - 'n terugkeer na wie ons in werklikheid nog altyd was.
Parker Palmer sê dit so: “Before I can tell my life what I want to do with it, I must listen to my life telling me who I am.”
'n Joodse verhaal vertel van 'n jong man wat na sy Rabbi gegaan het en gevra het hoe hy God se roeping in sy lewe kan hoor. Die Rabbi het hom 'n eenvoudige waarheid geleer: "Jou siel het 'n stem, maar jy moet die regte instrument speel om dit te hoor." Jy kan mos nie drom op 'n fluit speel nie... Die jong man het dadelik gevra: Hoe weet ek wat is my instrument wat my stem nodig het? Die Rabbi antwoord: Luister na die stem in jou hart.
Mag die Heilige Gees jou 2025 soos 'n sagte wind lei, terwyl jou hart se unieke melodie die pad voor jou verlig. Wanneer jy daardie lied hoor sal jy weet watter instrument jy op hierdie aarde moet speel.
Theo Geyser