top of page

Kan ek gee wat ek begeer?




’n Hele paar memes wonder hoe dit werk dat Jesus die brood van die lewe is as jy iemand is wat nie gluten kan eet nie. Dis maar net ’n eenvoudige grappie, maar dit wys hoe anders ons idee van brood vandag is teenoor die beeld van brood wat so gereeld in die Bybel opduik.


Tydens Lent word ons veral herinner aan Jesus se woorde in die woestyn: “Jy kan nie van brood alleen lewe nie…” juis wanneer hy honger is en brood die maklikste antwoord op sy begeerte sou wees. Wat wil hierdie woestyntyd vir my wys oor my begeertes?


As ek dink aan Matt.6 se voorskrifte oor vas, basies – don’t make a fuss. Of soos die Message vertaling dit stel: “Don’t make a production out of it.” Hoekom het ons dan hierdie, myns insiens nogal indrukwekkende, vertelling van hoe Jesus gevas het in die woestyn?


Dit is vir my interessant dat Jesus honger geword het. Wat van dors? Dink net hoe lekker sou ’n yskoue gaskoeldrank wees na daai veertig dae in die woestyn. In my verbeelding smag ek nie bloot daarna om my dors te les nie, maar na iets soos ’n handelsmerk en ’n duidelike sensasie in my keel wat vir my uitspel dat my dors nou geles word.


Dis min of meer hoe die voorstelle waarmee die duiwel vir Jesus toets ook op ’n manier klink. Voor die hand liggend en ook nie só belaglik nie: “Jy’s honger? Jy’s die seun van God? Maklik – verander hierdie klip in ’n brood”.


Die manier waarop Jesus die toets weerstaan is veral deur nie net by die oppervlakkige begeerte te stop nie. Honger is so normaal en menslik soos kan kom. Die probleem is nie daarmee nie. Die gevaar is daarin om die begeerte te verwar met identiteit. Jesus is nie bereid om sy begeerte gelyk te stel aan wie hy is nie. Selfs al is daar ’n stem wat so eenvoudig en duidelik probeer voorskryf wie en wat hy is.


“No matter what identity comes along, I can try to assume that identity, but no matter how much effort I make to be that thing, I can't be it." – Todd McGowan


Ek dink ons begeertes meng so maklik in met wie ons is juis omdat ons eintlik so graag soveel moeite wil doen om te wees wie ons dink ons veronderstel is om te wees. Al hou dit ons in ’n kringloop wat tegelyk probeer behaag én opgaar omdat ons net nie heeltemal genoeg kan hê nie.


Jesus lei telkens die aandag weg van die voor die hand liggende, na dit wat ons nie sien nie. Spesifiek na God, die Vader wat ons nie sien nie. Hy sien óns. Jesus herinner ons daaraan as Hy praat oor hoe om te vas en oor hoe om te bid.


Dit is hoe Jesus se voorbeeld in Lent ons aandag skuif van begeerte na vrygewigheid. Van die vinnige oplossing, na die ontdekking: As hierdie ek is, is dit vir my?



- Deon Meiring

bottom of page