Jesus het gereken dat een van die groot gevare van liefde is om dit te kompartementaliseer. Daarom is Sy groot opdrag: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou HELE hart en met jou HELE siel en met jou HELE verstand…” (Matt 22:37-40). Jesus sê ‘HELE’, omdat ons geneig is om gedeeltelik met ons hart, siel en denke lief te hê. Dit is byvoorbeeld baie makliker om fisies lief te hê as om met my denke en siel dieselfde oorgawe te maak.
Die oorgawe is moeilik, bloot omdat kwesbare gedeeltes in ons dit moeilik máák om lief te hê.
Ons gesels Sondag oor Moses wat God maklik kan liefhê by die Braambos, maar dit baie moeiliker vind om die liefde met sy gawe en roeping buite die Braambos uit te leef. Dit is waar ons die kwesbaarste is. Dis makliker om te ontvang en moeiliker om te gee. Ons voel, soos Moses, nooit goed genoeg nie (Eks 3:11), buite beheer wanneer ons nie antwoorde het nie (Eks 3:13), ongemaklik wanneer aanvaarding van mense dalk in die weegskaal kan kom (Eks 4;1), en onbevoeg wanneer ons roeping groter is as ons gawes (Eks 4:10).
Ongemaklike vrae help ons om meer van onsself te verstaan en God te vertrou om ons ook in daardie areas van ons lewe te ontmoet. “Calls are essentially questions. They aren’t questions you necessarily need to answer outright; they are questions to which you need to respond, expose yourself, and kneel before. You don’t want an answer you can put in a box and set on a shelf. You want a question that will become a chariot to carry you across the breadth of your life.” Gregg Levoy
Goeie vrae laat ons sien wie ons werklik is, asook daardie gedeeltes wie ons nie is nie, wat soms die liefde blokkeer. Ruth Barton reken dat dit die wese van ons redding is:
"In the New Testament, the idea of calling is almost synonymous with salvation and the life of faith itself. We are saved from being who we are not and called to be who we are."
- Geskryf deur Theo Geyser