top of page

IN SY ELEMENT: VUUR


Johannes die Doper het oornag ‘n celebrity geword. Hy is dinamies, wild, vreesloos, vat die empire aan en begin ‘n weerstandsbeweging teen die tempel. Hy word so gewild dat hulle dink hy is Jesus. Dink vir ‘n oomblik hoe moeilik dit vir hom moes wees. Dit is nie net al die teenstand wat hy moet hanteer nie, maar ook mense se projeksies wat ook ‘n invloed op homself het. Soos met enige celebrity verander die bewondering van mense ook die verstaan van jouself. Baie keer is daar ‘n totale illusie en verbreking met realiteit. Dit is seker waarom Johannes die bekende woorde in Johannes 3 sê: “Ek moet minder word…” Hy kon dalk hierdie groeiende ego voel vreet aan sy siel. Hy laat jou duidelik verstaan dat hy slegs die pad berei vir die een wat na hom kom, en dat hy nie Jesus is nie. Dan sê hy hierdie belangrike woorde: “Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie — Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.


Wat beteken dit om met die Heilige Gees en vuur gedoop te word?


Johannes sou weet, hy word immers die Doper genoem (soms is die Engels misleidend met John the Baptist – die korrekte vertaling is eerder “Baptizer”). Hy is reeds in sy moederskoot vervul of gedoop met die Heilige Gees. Die woord “doop” word ook soms vertaal met beklee of “came upon or over”. Woord dunamis/dinamiet kom van die woord enduo (kleed). ‘n Mens kan sê dat Johannes binne hierdie kragveld geleef het, en wanneer mense in hierdie kragveld gekom het, God hulle ook aangeraak het met die Heilige Gees.


Hierdie kragveld kan met vuur beskryf word.


Die woord vuur word meer as 400 keer in die Bybel gebruik. Doping met die Heilige Gees kan nooit verskraal word na ‘n gawe soos tale wat jy ontvang of die verbruikerisme waarin baie kerke verval waar die Heilige Gees jou goed laat voel oor jouself nie. Nee, vuur is iets anders. In die Bybel dui dit op reiniging, “die koring word van die kaf geskei” (vs 17). Jode het God se goedkeuring of afkeur met vuur verstaan. Die vuur tem ons verlange, passies en begeertes.  “My heart grew hot within me. While I meditated, the fire burned; then I spoke with my tongue…” Ps 39:3


Die kaf en die koring kom uit dieselfde bron: God. Alle begeertes, verlange en passies, goed of sleg kom uit God, en hoe ons dit kanaliseer bepaal hoe daardie vuur in ons brand. Die slegte nuus waarna jy kyk kom nie van bose energie nie, maar eerder heilige energie wat misbruik word vir eie gewin.  


Geloofsgewoonte

Neem hierdie week ‘n kers en brand dit elke dag wanneer jy bid. Kyk na die vlam, en nooi die Here om jou te doop met die Heilige Gees en met vuur.


Lees elke dag hierdie Skrifgedeelte: “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande.” (1 Tim 1:6)


Die woord aanwakker verwys na ‘n blaasbalk waarmee jy vuur aanblaas. Raak bewus van die tye gedurende die dag waar jy ervaar dat God oor jou begin blaas en jou hart besiel met ‘n verterende energie en blydskap.



Geskryf deur Theo Geyser

bottom of page