top of page

Fopspene vir Dummies


Sover ek weet is daar ’n nie-amptelike ooreenkoms dat ons verkieslik nie handleidings moet lees nie. Soos die ou cliché sê: “If all else fails, read the instructions.”


Dalk is dit hoekom ek tog dikwels handleidings lees: Ek is in opstand teen die ongeskrewe handleiding. Nou die dag staan ek en ’n vriend in sy kombuis en bewonder die boks van sy nuwe slow cooker. Hy sê hy wou dit nog nie oopmaak nie. “Ja, want dan moet jy eers die manual lees,” sê ek toe. Hy’t my aangekyk asof hy hoop ek kry binnekort die hulp wat ek duidelik nodig het. Hy’s reg, want selfs wanneer ek manuals noukeurig lees, kry ek dit nog steeds reg om die verkeerde ding te doen. Dis hoe ek weet Paulus het ook ’n vriend met ’n slow cooker gehad:


Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. – Rom.7:15 (1983 Vertaling)


Die apps wat ek gebruik om my pad te vind sê: “In 100m, turn right”, maar ek het geen benul wat die app se idee van 100m is nie. Ek ry óf verby, óf ek draai te vroeg af. Die middeweg ontwyk my byna elke keer.


In Markus 9 wys Jesus vir die dissipels ’n kind en sê: “Húlle is belangrik, die kinders, verwelkom hulle,” (ek parafraseer). In Markus 10 jaag die dissipels die kinders weg wat na Jesus toe kom. Dis hoekom ek so goeie dissipel maak – jy kan vir my sê wat om te doen, maar blaai net een hoofstuk aan om te sien hoe ek dit verkeerd kry.


Met wysheid het ons iets wat lyk soos ’n handleiding:


“…Written down so we’ll know how to live well and right, to understand what life means and where it’s going; A manual for living…” – Prov.1:1-6 (MSG)


Tog is dit nie die laaste woord oor wysheid nie:


Niemand moet homself mislei nie. As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld 'n wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik 'n wyse mens kan word, want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God. Daar staan tog geskrywe:

“Hy vang die slimmes met hulle eie slinkse planne,” – 1 Kor.3:18-19



Daar is iets aan wysheid wat ons gewone verwagtinge onkant vang. Ons kan redeneer en neerskryf en onsself en ander probeer leer. Tog is wysheid nie mak nie. Sy hou van straathoeke en kruispaaie. Sy wink op die grens van wat ek gerieflikheidshalwe probeer miskyk. Nes die kinders wat die dissipels wou wegjaag, want hulle was besig met ernstige dinge. Jesus was maar net besig met een of ander koninkryk.


"It's so much easier and more comfortable to stay at one's current level of mental illness." – Anne Lamott


Daai aanhaling kom uit Anne Lamott se “Operating Instructions”. ’n Joernaal oor haar eerste jaar as ma. Ek het aanvanklik gedink die titel verwys na die feit dat kinders nie kom met handleidings nie. Dit sinspeel dalk daarop ook, maar eintlik bedoel sy operating in die sin van ’n modus operandi. Hoe jy dinge doen. Hoe jy die regte lewe leef. Die een met spoeg en trane. Met verwondering en wonder wat volgende. Telkens in die boek vra sy vir God vir instruksies oor hoe om nou voort te gaan. Nie net in die grootmaak van haar seun nie, maar in haar hele, gewone lewe.


Want wysheid is skeppend. In Spreuke 8 beskryf die verpersoonliking van Wysheid haarself as die heel eerste skepping van God. Voor al die ander wonderlike goed tot stand gekom het, was Wysheid daar. ’n Kunstenaar langs God.


“…I was right there with him, making sure everything fit.” – Prov. 8 (MSG)


Dis hoekom Wysheid ons soms inwag daar op die rand van dit wat pas en nie pas nie. Wysheid pas nie net aan by die norm nie. Sy wys dat die norm ook maar ’n bogstorie is. Ons het soms iemand soos ’n kind of ’n heilige dwaas nodig om dit in te sien. Nie net reëlmatige handleidings nie.


Dis die fopspeen wat ons nie om die bos lei nie, maar wat ons wakker maak. Om op uitgeslape wyse ons slimmigheid baas te raak voordat slim sy baas vang.Dis die soort dwaasheid wat my nederig genoeg maak om skaamteloos opreg die strate van ons lewe in te stap. Om skeppend genoeg te wees om nie net by die ou bekende aanwysings te hou nie, maar om tree vir tree te onderskei waarheen die kunstenaar ons volgende roep.



Deur Deon Meiring

bottom of page