Ek wonder baie hoe Onesimus moes voel. Jy hoor niks van hom nie. Hy is 'n vlugteling wat ‘n doodsvonnis het omdat hy van sy baas, Filémon, weggevlug het. Die boek Filémon het slegs 25 verse in die Bybel, en Onesimus se naam word vir die eerste keer eers in vers 10 genoem. Hy het soos baie ander wat gemarginaliseer word, geen stem nie. Hy is immers net ‘n slaaf. Paulus kan darem roem oor sy apostelskap en Filémon oor al sy rykdom wat ook nou die evangelie dien. Maar Onesimus kan nie sy saak stel nie. Ons weet niks van sy verlanges of die redes waarom hy werklik gevlug het van sy baas nie. Ons probeer hom deur Paulus en Filémon verstaan.
Die vroegste interpretasies van die boek Filémon, soos Ambrosius van Milaan (397 nC), het dit verstaan as 'n hiërargiese verhouding. Onesimus was sleg (nutteloos), en Paulus red hom, stuur hom terug, en nou word hy ‘n nuttige slaaf.
Die groter narratief is eerder om die stilte van Onesimus te lees. Hoe het hy oor slawerny gevoel? Is dit nie die grootste onreg teen die mensdom nie? In 1807 is slawehandel verban in England, maar eers in 1838 is slawe vrygelaat. Die groot hartseer is dat die debatte meestal teologies gevoer was, en die boek Filémon was gebruik om slawerny te reverdig.
Ons gaan Sondag soek na die stem van Onesimus. Johnny Cash kom ook kuier en Frieda doen 'n gedig uit Digterby - ‘n lusmaker vir die Woordfees! Sien julle Sondag 10h00 by die Protea.