Kersfees belowe “GROOT blydskap vir die HELE volk” Luk 2:10. Die (weder)geboorte van Jesus binne ons bring ‘n gekwalifiseerde blydskap. Dit sluit die koning en straatvrou in, die skrifgeleerde en die sterrekyker, die wat binne en buite die geloof staan!
Soms word ons blydskap uit ‘n ander bron gebore. Dit was CS Lewis wat reeds vroeg in sy werk die breuk tussen die godsdienstige en gekommersialiseerde viering van Kersfees beskyf het. Kersfees het immers van die grootste ‘shows’ geword en hou die kerkkoffers se spaarvarkie vol. Die blydskap is tipe gemoedelikheid soos ‘n naweeksgees waar God gedank word vir ‘n beloofde Vrydag.
Ons weet waar alles geïndig het. Amper weer soos in die Middeleeue waar dit ‘n karnaval geword het soos die Mardi Gras. Dit was so erg dat die Purityne Kersfees verbied het in die 17de eeu. Ons is amper alweer daar, en vele bewegings betoog teen die misbruik en kommersialisering van Kersfees.
Ek dink nie ons moet die baba met die badwater uitgooi nie!
Ons moet bly wees. Om ‘n tipe sedigheid of moralisme af te dwing soos die Purityne is net so erg soos die vervlakking! Die Ou Testamentiese feeste nooi ons na die God van blydskap toe uit, om ook bly te wees. ‘n Vrou salf immers Jesus se voete met duur salf en die dissipels kla omdat dit vir die armes gegee kon word. Daarin lê iets in van ‘n heilige verkwisting! Deur blydskap verklaar ons tog ook ons geloof en hoop in God.
Ons gesels Sondag oor hoe ons hoop in God ook aan ons blydskap kan skenk. Onthou ons kuier ook by die Protea Hotel saam om 10h00!