Ons innerlike wêreld of hart het vensters en daardeur sien ons onsself, ander en God. Dit kan gebeur dat die blinders van ons harte nooit oopgemaak word nie of selfs deur pyn of omstandighede toegemaak word, wat veroorsaak dat ons nie die lewe kan sien soos wat dit regtig is nie. Eugene Peterson vertaal Matt 6:23 as volg: “If you pull the blinds on your windows, what a dark life you will have!”
Elia het die blinders van sy lewe toegetrek oor iets waarvoor hy bang was. Hy wou nie daarna kyk nie. Hy was bang om so swak soos sy vaders (lees 1 Kon 19:4) te word en daarom probeer hy om deur sy radikale braafheid, God se profeet te wees.
Sy eie blindheid vang hom. ‘n Briefie met ‘n doodsdreigement hou hom vasgevang in 'n diep depressie onder ‘n besembos. Stoksielalleen in die woestyn. Wie is hy in die afwesigheid van die bewonderende skare en die wonderwerke wat hy doen? Watter arrogansie of beeld van homself is so trots binne hom dat hy eerder sy lewe wil neem? Wat doen jy wanneer woede, beledigings en slagofferskap nie meer vir jou iets kan beteken nie?
Jou blinders moet oopgetrek word! Jy moet jou woorde ruil vir God se woorde!
God praat nie soos wat Elia dit graag wil hoor nie, maar praat deur nie te praat nie. Hy ontmoet God nie in die warrelwind nie, maar in die fluisterwind van stilte. Die stilte en alleen wees gee aan Elia die gawe om God te hoor. “…and after the earthquake a fire, but the Lord was not in the fire; and after the fire a sound of sheer silence.” 1 Kon 19:12.
Elia die alleen-mens word nou die mense-mens. Hy salf konings om hom te help en Elisa word sy metgesel om ‘n ou roeping op ‘n nuwe manier te leef.
Ons sluit Sondag die reeks af en kuier om 10h00 by die Protea Hotel!