Die evangelie van Markus word beskou as die oudste evangelie in die Bybel. Dit word ook dikwels beskryf as die "reader's digest" weergawe van die Goeie Nuus. Miskien omdat dit gekenmerk word deur 'n stewige tempo en Markus nie veel tyd mors met byvoeglike naamwoorde en ander draaitjies nie. Soos met baie mense van sy tyd, word vertel dat hy ook 'n ekstra naam gehad het. Ou Stompvinger-Markus (klink soos die manier waarop my Oupa en Ouma onderskei het tussen al die Janne en Piete en Kose en Gerte van die platteland). Of hy werklik besonder kort vingertjies gehad het vir 'n man met 'n groot statuur, is debatteerbaar. Dit verwys dalk eerder na die manier waarop hy 'n storie vertel. Bondig en tot die punt. Op die man af. In net sestien hoofstukke, soos ons dit vandag ken. En tog moet ons ons nie laat mislei deur die stomp sinne nie. Dit getuig hoegenaamd nie van stompsinnigheid aan Markus se kant nie - dis 'n noukeurig ontwerpte evangelie. 'n Drama wat afspeel in drie hooftonele.
Wat ons ook moet onthou, is dat Markus nie vir Jesus persoonlik geken het nie. Hy het hom leer ken deur sy eie leermeester, Petrus. Storm-en-drang Petrus. Petrus wat Jesus net "soveel keer" liefgehad het soos wat hy Hom verraai het. Petrus wat ore afgekap het. Petrus, op wie die Kerk gebou sou word. Ons sou dus die aanname kon maak dat watookal die helderste in Petrus se geheue was, die dinge wat hom die meeste bygebly het van Jesus, juis die meeste in die kollig staan in hierdie Evangelie.
Markus begin die evangelie met die sin: "Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God." Wat interessant is, is dat dit ook die laaste keer is wat Markus die leser gaan vertel wat HY dink, van hier af gaan hy gewoon Jesus se aksies en woorde voor jou sit en jou wys hoe ander mense gereageer het op Hom. En die leitmotif - die deurlopende tema nl. dat Jesus se eie dissipels nooit heeltemal seker was van sy Ware Identiteit en wat dit werklik behels het nie. Dat die mense naaste aan Hom, sy vriende en volgelinge vol twyfel was en nie die volle implikasie van sy wese en sy boodskap begryp het nie. Dat hulle tot die einde die roem en status en ontvlugting wat dit moes behels om 'n Koning te volg, aangehang het, maar nie die diensbaarheid, donker (wat saam met Lig uithang) en dood in die gesig wou staar nie.
Ons gaan Sondag fokus op die agtste hoofstuk van die Evangelie: "En Hy sê vir hulle (na Hy gevra het wat ander mense oor Hom sê): Maar julle, wie sê julle is Ek?" (Mark. 8:29). Markus, wat deurgaans vernuftig omgaan met ironie, laat dit hier ook nie na nie. Hierdie gesprek vind plaas net na Jesus 'n blinde man genees het in Betsáida. So asof hy die innerlike blindheid van die mense wat veronderstel is om die helderste te kan sien, probeer uitwys. En die leser - vir my en jou - aanhou pols: "Wie sê jy is Hy?"
Dis dan ook ironies dat dit, van alle mense, 'n Romeinse soldaat is, wat na aan die einde van die evangelie onombonde verklaar wie Jesus is, sonder 'n Bybel, sonder 'n leermeester, sonder enige invloed van buite: Waarlik, Hy was die Seun van God.
Die oorspronklike evangelie van Markus eindig om die minste daarvan te sê regtig selfs stomper as wat sy vingers was. Dit wil byna lyk of die laaste bladsy iewers uitgeskeur is en verlore geraak het. Dis sonder enige genoegdoening of slot ("closure"). Jesus verskyn aan die vroue na sy opstanding. "Toe gaan hulle haastig uit en vlug van die graf af weg. En bewing en ontsetting het hulle aangegryp. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle het gevreees."
The end. Net so. (As jy in jou Bybel kyk, sal jy sien daar kom nog 12 verse daarna, maar dis later bygeskryf deur mense wie se gesigte seker net so verbaas was.)
Maar die gebrek aan 'n bevredigende slot, forseer jou, die leser, om te worstel met die vreemde en skandalige bewerings oor hierdie Messias (terug na die eerste sin van die evangelie): Gaan jy ook weghardloop soos die dissipels? Of gaan jy Jesus her-ken as koning, dienaar en redder?
Net jy kan dit antwoord: wie sê JY is Ek?