Ek sit en tik met die klankbaan van reëndruppels in die agtergrond. Dit reën hard en aanhoudend in die Kaap. Ons het sweerlik al almal vergeet dat daar ‘n droogte was ‘n paar jaar gelede wat ons op ons knieë gedwing het. Sommige van ons is ook al so lank in die Kaap dat ons amper vergeet, of onsself ophou her-inner, dat ons van die Vrystaat of van Namakwaland af kom waar ons geleer is om ‘n diep, diep dors vir water te kweek. Ons stadskinders leer by die skool liedjies soos “Rain, rain, go away, please come back another day” en meeste mense verwys na die weer as mistroostig. Ons weer onsself af teen die reën onder dakke en sambrele. Heeltemal anders as daai dag in 2016, ek dink dit was in Februarie van alle maande … ek het nou die dag weer die video op my foon gekyk: my man en kinders en hond dans in die reën. Die selfoon se skerm is ook sopnat en duidelik hanteer deur iemand wat gelate saamdans. Ek kon dit amper weer ruik … daai oomblik toe die water die dors grond tref.
Dit is egter nie net dankbaarheid wat die reuk van reën so onbeskryflik maak nie, daar’s ook chemie betrokke. Ons neuse kan tot ‘n triljoen verskillende geure bespeur en baie daarvan is diep verbonde aan herinneringe en emosies – soos jou ouma se huis, of jou eerste hond, of die reuk van reën.
Maar: reën het nie ‘n reuk nie. Hierdie fenomeen – Petrichor – is die eerste keer bevind deur twee Australiese wetenskaplikes in 1964 nadat talle wetenskaplikes en parfuummakers op sy spoor was. Rumi het eeue vroeër reeds kennis daarvan gedra:
I feel like the earth, astonished at fragrance born in the air, made pregnant with mystery from a drop of rain.
Stormwinde dra ‘n orkes van verskillende reuke, maar die warm, aardse geur wat ons ervaar se spoor kan gesny word na bakterieë. Voor ‘n donderstorm ruik jy heel moontlik osoon wat, interessant genoeg, sy naam kry van die Griekse woord wat beteken “om te ruik”. Soos reën begin val, ontstaan ‘n nuwe reuk uit die grond – “petrichor”. Petrichor kry die helfte van sy naam van die woord “petros” wat beteken “rots” (soos Petrus toe die Here vir hom sy nuwe naam gegee het) en die ander helfte van die woord “ichor” wat die magiese vloeistof is wat deur die are van die gode gevloei het. Dit bevat dus die wetenskap én die kragtige gevoelens wat mens ervaar as jy dit ruik.
Wanneer ontbinde organiese materiaal in die lug ingewaai word van droë grond, land dit op sand of rotse waar minerale daarby aansluit en hierdie hele mengsel word gebrou in ‘n magical medley van molekules. Reëndruppels wat val stuur dan daai chemikalieë in die lug in tot binne-in jou nostalgiese neusgate. Wanneer daar geen reën is nie, bly die chemikalieë in die grond waar hulle vir plante die tekens gee om hulle wortels te halt-stuit een-twee met die groei saam en sade te verhoed om te ontkiem omdat daar geen water is om te drink nie. Petrichor: vir die plant wat moeg gewag is om te groei (in ‘n advertensiestem)! Bakterieë in die grond werk ook saam om petrichor te vorm, deur ‘n chemikalie vry te stel wat ons geosmin noem. Dis dieselfde samestelling wat beet daai aardse geur gee.
Daar’s ook ander rolle wat petrichor speel behalwe om ons met emosies te besprinkel. Dit trek kamele aan na woestynoases. Petrichor wat in riviere en mere inspoel, gee glo ook vir visse die teken dat dit tyd is om eiers vry te stel. En natuurlik, is daar niks soos ‘n reënstorm om ‘n bietjie romanse aan te blaas nie – kyk maar net The Notebook … weer!
So wat het wetenskap met gees uit te waai (moenie die woordspeling verskoon nie)?
Meer as wat ons kan dink.
In die Psalms lees ons: “Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.”
In Hosea 5:3 lees ons: “En laat ons ken – laat ons dit najaag om die Here te ken … Hy sal na ons toe kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei.” En dan gaan dit verder: “Wat sal ek met julle doen? Aangesien julle liefde is soos ‘n môrewolk en soos ‘n dou wat vroeg weer verdwyn. Ek het ‘n behae in liefde, nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.”
Paulus skryf aan die Korintiërs: “Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei.”
En hierdie kennis is nie informasie nie; dis nie die “kop” van feite nie. Dit gaan nie daaroor om meer te weet nie; maar om met meer van jou te weet. Dit dui in die Hebreeus op ‘n diep, intieme verhouding. Op toewyding. En toewyding is nie bowenal die gehoorsaam van reëls of leë rituele nie. Toewyding IS liefde, lojaliteit en entoesiasme.
Ek sit en wonder nou: wat is die reuk wat ek afgee? Wat ruik mense as hulle by my is? Ruik hulle Christus se lewendigheid in my teenwoordigheid? Of bespuit ek myself met reukweerders soos dringendheid, haas, angs, selfsug en alles anders wat vrylik beskikbaar is op die rakke? Ruik hulle die hoop, die geloof en bowenal die liefde as hulle ‘n ontmoeting het met ons as gemeenskap?
Die “reuk van reën” is nie net ‘n oerinstink wat in ons agtergebly het omdat dit dui op oor-lewing nie; dis die verlange in ons om werklik ‘n lewendige lewe te leef.
Ek lees hierdie week ‘n stukkie uit Natalie Goldman se Long Quiet Highway:
Thank God for that rain out the window and for Mr. Clemente, who allowed us in ninth grade to listen to it for no reason, in the middle of the day. That one moment carried me a long way into my life.
I didn’t know it then. At the time, I think, it made me a little nervous – it was too naked, too uncontrolled, too honest. I thought it odd. In those days I was watching my step, making sure I knew the rules, keeping things in control. I wore the same long, pleated skirt every day, blue cardigan sweater, oxford shoes, and carried a brown leather school bag.
And here was Mr. Clemente who asked me to listen to the rain, to connect a sense organ with something natural, neutral, good. He asked me to become alive. I was scared, and I loved it.”
- Deur Frieda van den Heever