top of page

Die reinheid en die rommel van die hart


In die ou wysheidstradisies is die hart ’n orgaan waarmee ons sien. Nie waarmee ons net ons eie emosies voel en uitdruk wie ons is nie, maar waarmee ons sien hoe God se bedoeling en skoonheid lyk. Dis hoe Cynthia Bourgeault dit verduidelik en dit help om sin te maak van hierdie woorde van Jesus:


“Geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” (Matt.5:8)


Dis meer as om net te dink my hart is ’n soort lens wat ek kan opsit om te sien soos wat God sien, en ek moet net sorg dat daai lens mooi blink en skoon is, dan’s alles reg.


Dit bly ’n orgaan. Iets meer ingewikkeld, en durf ek dit sê: morsig. Hoe kan iets wat morsig is rein wees? Beteken rein nie volmaak en pragtig nie? Wanneer ons met reinheid in die Ou Testament te doen kry, is dit nie heeltemal ’n gesteriliseerde affêre nie. Dit is nader daaraan om dit wat onrein is ook in die gesig te staar en eerder as om dit weg te wens ook plek te maak daarvoor.


Baie van die ou rituele rondom reinheid neem bloot in ag dat ons liggame het, wat beslis wonderlik is, maar deel van die pakket is ook dit waaror ons liewer nie sou wou praat nie. Tog prat die Ou Testament daaroor. Kyk na hierdie voorskrif:


Daar moet 'n tentpen by jou toerusting wees. Wanneer jy buite op jou hurke wil gaan sit, moet jy daarmee 'n gat grawe en jou ontlasting weer bedek. (Deut.23:13, 2020 Vertaling) Heel prakties. Heel gemaklik daarmee om nie doekies om te draai nie. Net soos met die liggaam is daar ook nie noodwendig fout met ’n onrein hart nie. Dis maar hoe harte is.


Die gevaar kom wanneer ek die onrein dinge, wat volgens Jesus in Markus 7 hulle oorsprong in die hart het, nie wil erken nie. As ek eerder wens vir ’n blink, skoon lens om mooi helder te sien, kies ek eintlik om die hart mis te kyk. Daai blink lens het minder te doen met hoe ek wil sien en meer met hoe ek vir ander wil lyk. Eerder as om na binne te gaan en van ’n opregte plek te leer kyk.


As ek myself te besig hou met die helder glas, kyk ek te maklik in die glas en die seep en lappe waarmee ek dit probeer was vas. My hart word nie rein deur die onrein dinge uiterlik te vermy nie. Dit word rein deur nederig genoeg te wees om dit in die eerste plek raak te sien, want dis al hoe dit op die regte tyd en regte plek kan uit. Net soos wat daar ’n tyd en plek vir dit wat fisies onrein is.


Onreinheid is dan nie ’n kategorie waarmee ek veroordeel nie, dis iets wat my help om te sien hoe dinge is, hoe ek is. Dis dalk hoekom Paulus na gelowiges kan verwys as rommel:

“…We’re treated like garbage […] the leftovers that nobody wants. And it’s not getting any better.”

1 Cor. 4:13 (MSG)


Want ons is die mense wat durf om buite die gewone vereistes van aanvaarbaar en blink te staan. Sodat ons kan leer om onsself opsy te skuif en mekaar te sien op ’n opregte manier, soos wat God sien.



Deur Deon Meiring


bottom of page