In Galasiërs hoor ons van ’n groep mense wat stoei met die ou, bekende vraag: Wie is in en wie is uit? Hierdie vraag kan maklik lewenslank aan ons vreet. Pouses by die skool, by die werksplek, waar ons kuier, in die politiek. Die Galasiërs, wat blykbaar Christene is, sukkel vir een of ander rede om met mekaar saam te leef. Waar het jy nou al daarvan gehoor?
Ek hoef nie eens te probeer nie dan kry ek myself dat ek wonder of ek inpas, of uitwerk hoekom iemand anders nie in pas is met my manier nie. Gelukkig het ek goeie redes. Nie soos die Galasiërs nie. Hulle hou nog vas aan ’n klomp verouderde reëls en voorskrifte om te bepaal wie is “ons” en wie is “hulle”? Hoe verkramp en oppervlakkig kan jy wees? Wel, natuurlik het ek eintlik ook maar my lys van arbitrêre, nietige moets en moenies. Hoekom is dit so moeilik? Kan ons nie net vir eens en vir altyd saamstem en in vrede leef nie?
Vir die Galasiërs is dit ingewikkeld, want van hulle kom uit die Joodse geloof. Die reëls en voorskrifte waaraan hulle vashou is nie sommer net nie. Dit het al oor generasies heen vir hulle gehelp om te weet wie hulle is. God se mense. Nou is hier dan mense wat anders lyk en anders doen wat ook God s’n is. Wat maak dat ander se andersheid so maklik verkeerd voel vir my? Die slim filosowe sal dikwels antwoord: Omdat dit te naby kom aan die andersheid in myself wat ek probeer vermy. Hoekom vermy ek dit? Dikwels omdat ek bang is dat dit my gaan weerhou van my begeertes en my eiewysheid.
Dit is deur ander, deur mekaar en deurmekaar, eerder as deur oppervlakkige eendersheid, dat ons gemeenskap vind.
Nie die “lelike parodie” daarvan soos wat Galasiërs 5 in The Message dit noem nie. Die opregte soort, wat ons help om dieper én wyer te leef. Wyer as ons eie klein kampie. Dieper bewus van God se heiligheid wat alles en almal op ’n manier deurgrond.
Sondag kyk ons na wat dit vir die Galasiërs en vir ons vandag nog beteken.
- Deur Deon Meiring