Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.
Matt. 5:6
Kyk, ek vermoed ek skryf hier aan mense wat lanklaas werklik honger of dors was. Miskien vanoggend toe jou bloedsuiker geval het na jy vergeet het om te eet omdat jy so besig was met almal anders se kosblikke en behoeftes. Of na gym vir die splitsekonde voor jy jou waterbottel opgetel het.
I don't want my restaurant to be a place where people sit and eat. I want people to sit at that table and be sick with longing.
Burnt
Die “honger en dors” waarvan hierdie saligspreking praat, staan eintlik in vir al ons verlangens en begeertes. En die “reg” waarna Matteus verwys is nie net die teenoorgestelde van verkeerd nie. Dis nie ‘n sinoniem vir “korrek” of “deugsaam” nie. Dis 'n veel meer dinamiese konsep in die Israel van Jesus se tyd. Dis 'n energiebelaaide sfeer van heilige teenwoordigheid. Om IN die geregtigheid van God te wees is om direk verbind aan en geanker te wees in hierdie kragveld.
Soveel as wat Matteus probeer om die boodskap te versag vir sy middelklas-gehoor, kan hy nie werklik Jesus se sentrale boodskap sagter maak nie. Dis steeds buitengewoon en ontwrigtend. “Maak seker jy’s nie versadig nie.”“Hou jouself in ‘n toestand van doelbewuste onversadigheid.” Die woord wat gebruik word verwys na “geregtigheid” in Grieks. Om ‘n “regte” lewe te leef in hierdie wêreld is om te identifiseer met die hunkerings – die hongers en dorse – van die armes, die sagmoediges en hulle wat treur. Hierdie identifikasie en solidariteit is alreeds ‘n betekenisvolle vorm van sosiale geregtigheid. Hierdie saligspreking is net soveel spiritueel as sosiaal.
Coenie Burger skryf in Vreemde geluk dat die diepte van iemand se geloof en toewyding beter gemeet kan word aan dit wat hy (weet hy) nié het of nie is nie, as aan dit wat (hy meen) hy wel het of is. Die meeste mense wat geestelike werk doen, weet dat daar min dinge is wat so veel oor ‘n persoon se geestelike peil verraai as juis dit waarna so iemand smag of verlang, die dinge wat hy mis in sy lewe, dit wat hy weet hy nie is nie of nie het nie.
In Lukas 16 is daar ‘n op-die-man-af verhaal. Dit gaan oor Lasarus en die ryk man (sonder naam in hierdie geval). Die hoofpunt van die verhaal is dat albei dié mense se lot in die ewigheid bepaal is, nie in die eerste plek deur wat hulle gedóén het nie, maar deur dit waarna hulle verlang en gesmag het op aarde. Lasarus se naam is letterlik ‘n uitroep: “God help!” Sy hele lewe het uitgeroep, gesmeek dat God moes uitreik om te help. Die ryk man, daarenteen: hy het op aarde nie vir God gemis nie. Helmut Thielicke skryf in The waiting Father: “Al wat daar oor hom gesê kan word, is dat hy ryk was – niks meer nie. Klaarblyklik het hy niks meer nodig gehad nie; sy geld was vir hom genoeg…”
Jesus weet hoe ‘n deurslaggewende rol hierdie smagting (honger en dors) in ons lewens speel. ‘n Mens se lewe word in ‘n groot mate bepaal deur jou drange, behoeftes en begeertes. Op ‘n manier is mens se totale gedrag eintlik ‘n uitvloeisel daarvan. “Hoe heiliger, hoe sondiger”, het Luther gesê. Hoe nader ‘n mens aan die Here kom, hoe meer raak jy bewus van die feit dat jou lewe nie is wat dit moet wees nie.
Geregtigheid moet beslag kry in ons lewens. Om te honger en dors na geregtigheid is ‘n brandende begeerte om te doen wat God wil hê. As Jesus sy seën toesê aan dié wat honger en dors na wat reg is, dan gaan dit om mense wat weet dat daar ook in hulle eie lewens te veel is wat nie reg is nie. Maar meer nog: dit is mense wie se ongelukkigheid met hulself – ook met hulle eiegeregtigheid, wat eintlik die teenpool van God se geregtigheid is – so ondraaglik en onuitstaanbaar geword het dat daar maar één uitweg oorbly: om in totale radeloosheid daarmee te vlug na God.
Alles in die wêreld (elke billboard en advertensie) skree: jy hoef nie honger of dors te wees nie. Kom wees versadig. Ons sal jou honger stil en jou dors les. Hier sal dit tot ‘n einde kom, vir altyd. Dit skep begeerte na begeerte vir goed wat ons nie nodig het of regtig wil hê nie. Richard Rohr verwys daarna as “the only game in the town” omdat ons so gewoond is daaraan: “In all my years as a Catholic priest hearing confessions, I’ve never heard anybody confess violating the Tenth Commandment: coveting their neighbour’s goods. Yet coveting goods is what our entire culture is built on!”
Hebsug se karakter is, soos ons weet, van die aard dat dit onversadigbaar is. Dit het ‘n al hoër dosis nodig om die ou bevrediging te kry. Jesus sê, “Hoekom gaan jy nie in presies die teenoorgestelde rigting nie? Kies leegheid op ‘n direkte, positiewe wyse tot dit sy verskrikking verloor.” Leonard Cohen het iets daarvan raakgevat toe hy gesê het, “Depravity is the mother of all poetry”.
Om die analogie verder te vat: ons het die “grammar” nodig vir die “poetry” om te kan wees.
Justice is the grammar of things. Mercy is the poetry. Justice does not preclude mercy. It makes mercy possible. Justice is the pitch of the roof and the structure of the walls. Mercy is the patter of rain on the roof and the life sheltered by the walls.
Frederick Buechner (Whistling in the dark – a doubter’s dictionary)
Hierdie skrywe van Coenie Burger in Vreemde geluk het my diep getref:
Baie mense deins terug vir God se geregtigheid omdat hulle dink dit gaan ander bevoordeel en hulleself benadeel. Wanneer ons so dink, kan ons weet dat ons nóg die heil nóg die geregtigheid begryp. God se geregtigheid en heil is nie twee losstaande of teenoorgestelde sake nie, maar in wese twee kante van dieselfde saak.
As iemand bang is dat die geregtigheid hom van die heil mag “beroof”, kan hy weet dat hy verkeerdelik besig is om materiële voorspoed en seën te verwar met heil. Heil is veel meer en veel groter as voorspoed. Dis ook minder broos. Voorspoed kan mens inderdaad verloor. Heil is vir goed en kan nooit verloor word nie.
As mens kan glo, seker kan wéét dat God die diepste, ongekende smagtings van ons lewens kan versadig, dan is jy ryp om jou oor te gee aan hierdie nuwe honger en dors. Ons dink so klein oor God. Jesus het dit destyds aan die Samaritaanse vrou by die put duidelik gemaak dat ons verkeerde begeertes eintlik “interpretasiefoute” is. Ons ervaar ‘n gemis in ons lewens en interpreteer dit dan aan die hand van ‘n klomp uiteenlopende faktore. So gebeur dit dat die lewe dan vir baie mense ‘n tragiese probeer-en-tref-oefening word. Party kry dit reg om die skyn van stylvolheid te bewaar en oënskynlik van die een “sukses” na die ander te beweeg. Ander is minder gelukkig en beland iewers in ‘n maalkolk van ellende. In wese is albei groepe se lewens onversadig en leeg, omdat hulle hul honger verkeerd gelees het. ‘n Mens het goeie oë nodig om te sien dat die grond van al die smagtings in ons lewe ‘n diep hunkering na ons Maker en sy oorspronklike doel vir ons lewens is.
Soos Augustinus ons herinner het: God het ons vir Homself gemaak, en ons hart sal onrustig en soekend bly tot dit rus vind in Hom.
Ons dorp, ons provinsie, ons land – waar jy bly – is ‘n bewys daarvan dat ons almal sukkel met hierdie “interpretasiefoute”. Die groot verskille en uiterstes in ons wêreld: waar oorvloed lê en verrot aan die een kant teenoor die buurt langsaan waar geen vullisblik onaangeroer gelaat word nie; diegene wie se grootste bekommernis is hoe om hulle vrye tyd te bestee teenoor die ander wat leef onder die spanning van een skrikbewind na ‘n ander:
God wíl die geregtigheid – tussen Hom en ons én tussen ons.
Selfs al sou ons persoonlik geen konkrete betrokkenheid in ander se onderdrukking en swaarkry (fisiese honger en dors) hê nie, sal ons nog altyd medepligtig wees. Want die onreg geskied meestal nie in die bose wat ons doen nie, maar in die goeie wat ons nié doen nie. Mag die Here ons arme rykes genadig wees en mag ons hierdie genade nie verwar met ‘n slaappil nie, maar wakker geskud word daardeur.
Deur Frieda van den Heever