top of page

Bergpredikasie: Salig is die... sagmoediges


Wanneer die derde kwartaal in volle swang is en al die hamsters op al die wieletjies hardloop en die verkeer al drukker word en die lentedag om die draai is maar die winter op sy koudste, kom Jesus en gooi die appelkar om, die hamster van die wieletjie af, klim op ‘n donkie terwyl die trop perde gereed staan. 


Hoe het ons dit met Hom?


“Wat vir ‘n mens is Hy (dat selfs die winde en die see Hom gehoorsaam is)?” 


Die bergpredikasie (Matt. 5-7) word dikwels – en tog nie dikwels genoeg nie – bestempel as die bloudruk van die Christelike leefstyl. Die eerste paar verse is betekenisvol:


En toe Hy die skare sien, het Hy op die berg geklim; en nadat hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom gekom; en Hy het sy mond geopen en hulle geleer en gesê …


Ons herroep Moses wat afgekom het van die berg af. Dis asof die skrywer wil aandui dat Jesus die nuwe Moses is wat die waarheid herproklameer en die nuwe wet na die volk bring. Dis ‘n belangrike konteks: op ‘n manier is die bergpredikasie die vernuwing van die tien gebooie.


In ‘n wêreld wat baie meer vertroud is daarmee om mense as gelowig of ongelowig te klassifiseer op grond van die sg. “warm sondes” en of jy jouself skaar by die godsdienstiges of dié wat “van die pad af” is, is die saligsprekinge radikaal. Dit het nie tóé logies sin gemaak vir die wetgeleerdes en Fariseërs en dissipels nie en dit maak nog minder sin vandag in ons wêreld waarin kinders hoofsaaklik geleer word hoe om te kan speel – en wen! – op die sportveld, in die sakewêreld en die politieke arena.


Vir Jesus is geloof nie die teenoorgestelde van om nié te glo in God nie; dit beteken nie jy gaan kerk toe of jy’s “into religion” of jy sê “Here! Here!” (Matt.7:21) nie. Geloof vir Jesus is die teenpool van beangstheid. As jy angstig is, as jy probeer om alles te beheer, as jy jou bekommer oor ‘n klomp goed, het jy nie geloof nie. Dan vertrou jy nie God is goed en aan jou kant nie. Dan probeer jy jouself aan jou eie stewelveters optrek. Die verklikker hiervan is beheer. Dis die lakmoestoets vir die kwaliteit van jou geloof, of meestal eerder die gebrek daaraan. God is vir jou meer as wat jy vir jouself is. God sorg vir die skepping in ‘n irrasionele wyse, ‘n manier wat niks te doen het met logika, waardigheid of korrekte gedrag nie.


“Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me—watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.”


Matt. 11:28-30



En dan kom Jesus met hierdie kicker:



Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.


Sagmoedigheid is nie juis ‘n eienskap wat mense opgewonde maak nie. “Hy is ‘n regte sagmoedige Neelsie” het eintlik ‘n assosiasie met lamlendigheid – daar’s so “ag, shame”-klankie in die stem: pap in die pype, ‘n push-over, ruggraatloos…PLUS – en dan bedoel ons eintlik MINUS – dit betaal nie. Dit wérk nie. Dis nie ‘n opsie vir iemand wat darem iewers wil kom in die lewe nie. Of selfs net al die rekeninge wil betaal nie. Die hardstes en fiksstes oorleef mos. 


Selfhandhawing, selfgelding, selfgenoegsaamheid is in sekere sielkundige kringe woorde wat positief bejeën word en hardheid en genadeloosheid word dikwels in die naam van “manlikheid” begeer en vereer.


Coenie Burger skryf in sy boek Vreemde Geluk:


“Maar, uit ‘n geloofshoek gesien, is die afwysing van sagmoedigheid as ‘n leefbare lewensmoontlikheid een van die mees heidense van alles lewenshoudings. Dit berus op ‘n verabsolutering van jouself en jou belange. Mense wat nie meer in sagmoedigheid glo nie, dink klein oor God. In teorie kan hulle God erken en eer, maar in die praktyk verwag hulle nie eintlik iets van Hom nie.


Sagmoedigheid is nie net sagtheid nie. Dis nie naïwiteit nie; sagmoedigheid se gebrek aan selfsug spruit eerder uit ‘n lewensgevoel van vergenoegdheid. Agter ‘n sagmoedige mens kan ons altyd weet staan ’n groot en sorgende God.”


Dis die teenoorgestelde van ruggraatloosheid. Dis die vertroue: “God has got my back.” Rabbi Rami Shapiro sê dit beteken bloot “don’t coerce life.” Om op die ongeforseerde ritmes van genade te leer dans.


Die Griekse woord vir sagmoedigheid hou ook verband daarmee om ‘n perd in te breek of mak te maak. Sagmoedigheid het dus niks te doen met bedeesdheid nie, en baie meer met beteueldheid. Die seun met wie ek uitgegaan het op skool het ‘n rare gawe gehad om perde in te breek en ek het soms saam met hom na die plase toe gegaan. Dit was iets om te aanskou. Die perde het nooit ‘n jammer-dat-ek-lewe-houding ingeneem nie, hulle het nie begin kruip uit ‘n opgee-onderdanigheid nie as hy met hulle “klaar” was nie. Die teenoorgestelde het gebeur: dit het gelyk asof hulle tot hulself kom as die perdefluisteraar met hulle gekommunikeer het. Die genot wat hulle daaruit geput het om dan in ritme met hom te beweeg, om perder perd te wees, in verhouding met hierdie liefdevolle temmer. Ingebreek is heeltemal anders as gebreek.


Cynthia Bourgeault skryf:


Blessed are the meek, for they will inherit the earth is how the third Beatitude is usually translated. A better translation is “Blessed are the gentle,” and perhaps an even better one is “Blessed are the gentled.” 


Op aarde het Klein Prins 'n jakkals ontmoet en het haar gevra: "Kan ons vriende wees?" "Net as jy my mak maak!" het die jakkals geantwoord.


Die Klein Prins was nuuskierig. "Wat beteken mak maak?" het hy gevra. "Dit beteken om bande te vestig, om 'n band te skep," het die jakkals gesê. “Anders is jy vir my net ’n seun soos duisende ander seuns en ek het jou nie nodig nie. En jy het my ook nie nodig nie, want ek is net soos enige ander jakkals.”


"Ek begin verstaan," het die Klein Prins gesê. “Daar is 'n blom. Ek dink sy het my mak gemaak. Ek mis haar baie!”


Toe die Klein Prins haar sien, het hy sy pragtige Roos omhels en gesê: "Ek is verantwoordelik vir jou en ek sal vir altyd by jou wees!"


Sy gaan verder: “That’s the ballpark this beatitude is working in. Blessed are the ones who have become spiritually “domesticated”: the ones who have tamed the wild animal energy within them, the passions and compulsions of our lower nature. In the Gospel of Thomas we see this process described as “devouring the lion”—because otherwise the lion will devour us! Only when we have dealt directly with our animal instincts, and the pervasive sense of fear and scarcity that emerge out of our egoic operating system, are we truly able to inherit the earth rather than destroy it.”


Jesus says: "Blessed is the lion which a man eats so that the lion becomes a man. But cursed is the man whom a lion eats so that the man becomes a lion!"


Jesus het gesê, “Geseënd is die leeu wat deur die mens geëet word, want die leeu sal ‘n mens word. En vervloek is die mens wat deur ‘n leeu geëet word, want die leeu sal ‘n mens word.”


Logion 7 Evangelie van Thomas


Tog interessant en seker ironies dat Benito Mussolini, die vader van fascisme – diktatorskap en onderdrukking onthou word vir sy woorde: "As ek kan kies, is ek eerder 'n dag lank 'n leeu as 'n honderd jaar lank 'n lam." Hy het nie, soos Mahatma Ghandi, elke oggend en elke aand die bergpredikasie van Jesus gelees nie. Vir meer as veertig jaar het dit nie opgehou om Gandhi te inspireer en die pad vir sy voete te wys nie. “I saw that the Sermon on the Mount was the whole of Christianity for [those] who wanted to live a Christian life. It is that Sermon which has endeared Jesus to me.” Dalk is dan ook nie toevallig dat Gandhi, ‘n Hindoe, deur Martin Luther King Jr. “the greatest Christian of modern times” genoem is nie.

‘n Brawe beteueldheid is wat ontbreek by die mense wat om mag meeding in ons wêreld. Braaf genoeg om die leeu in jou te eet voor jy hom buite jou gaan jag. Braaf genoeg om te kniel terwyl alles in jou in opstand wil kom. Braaf genoeg om eers met sagte knieë af te sak voor jy wil opstaan vir jouself. 


‘n Ou liedjie van Cupido kom onwillekeurig by my op:


Was ek maar ‘n digter sou ek dalk kon beskryf wat jy aan my doen en hoe ek oor jou voel … Ek sal jou liefhê tot die hane ophou kraai, tot die leeu en die lam bymekaar gaan lê … 

dís die nuwe aarde, dís die erfenis – dís die real estate.



Frieda van den Heever

bottom of page