![](https://static.wixstatic.com/media/e053a9_f48914efd55d42599d501a209f7e02a7~mv2.png/v1/fill/w_980,h_551,al_c,q_90,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/e053a9_f48914efd55d42599d501a209f7e02a7~mv2.png)
It's a mystery to me
We have a greed with which we have agreed
You think you have to want more than you need
Until you have it all you won't be free
Society, you're a crazy breed …
Eddie Vedder
Wat skryf mens oor ‘n kwesplek wat ons elkeen ken? In ons gebeendere mee worstel van kleins af. Myne. Myne. Myne. “Hê, mamma, hê! Hê hê hê!” Meer. Nog. Want, as less werklik more is, hoe hou ons dan score? En die score is deel van ons core. Dis die game wat ons hele samelewing speel. Soos Monopoly. Hoe lekker is daai pers straat?! Nes Monopoly. Behalwe dat ons nie die papiergeld en die bord en die mannetjies kan terugpak as ons klaargespeel het nie. Nou’s dit real. Nou lê ons wakker. En dis nie vreemd of uniek nie. Meeste mense wat ek ken is vasgevang sit op hierdie straat. Ek hoef amper nie eens skuldig te voel nie. Hoekom lê ek dan wakker?
We have a greed with which we have agreed.
Ek het myself vir baie lank kasty oor my soeke na meer-meer-meer. Goed, kennis, ervarings, insigte, you name it. Tot ek besef het, die soeke is nie die probleem nie. My ware versugting is na heelheid, voltooidheid, diepte, waarheid (as jy wil) en altyd vryheid. Dis ‘n edel soeke, een wat diep in ons elkeen geplaas is. Dis die maniere waarop ek soek en die wyses wat die media op die rekenaar, die TV, die borde langs die pad opdis wat my soeke in onversadigbare rigtings instuur. Net nog daai boek, net nog daai gadget, net daai paar skoene, dan sal jy heel wees. Dan is die prentjie voltooi. Die Eagles sing daarvan in Hotel California. Eddie Vedder in Society. Die lys gaan aan …
… greed and gold
forever the loneliest road …
Seth Lakeman
Ongelukkig kan ons nie ‘n pad volg wat vurk nie. Ons kan nie voltyds werk vir twee meesters nie. Christus was baie reguit en ondubbelsinning hieroor: Jy kan nie God én Mammon dien nie. Jy kan natuurlik geld en goud en goed hê, dis oukei. Wat nie oukei is nie, is as die spul g’s jóú begin “hê”. Die groot G—en die gee waarnatoe Hy ons uitnooi, kan nie huismaak onder dieselfde dak as waar die klein g’s eintlik die shots call nie.
“What is, is plenty, but more is never enough.”
Marty Rubin
Iemand het een maal gesê hebsug is ‘n vet demoon met ‘n klein mondjie. Wat jy hom ookal voer, gaan nooit genoeg wees nie. En as ons begin dink die demoontjie is net op ‘n geld-en-goed-dieet, het hy ons presies waar hy ons wil hê. Hy is ‘n totale omnivoor. Soos ‘n banter wat ‘n bietjie bant en ook bietjie roomys eet. Bietjie vir bietjie word hy baie dik. Hy floreer ook op kennis, mag, moralisme, komplimente, enigiets wat nie versadigingspunt kan bereik nie. Enigiets wat jou verGENOEGdheid steel. Enigiets wat jou uiteindelik jou hart laat opgaar. Jesus sê, “Guard your heart”. Mammon sê, “Hoard your heart.”
In Hebreërs 13:5 word twee dinge bymekaar gebring wat nie op eerste oogopslag noodwendig bymekaar hoort nie. Dit tref my (en miskien alle koshuiskinders) teen die bors met ‘n waarheid wat die verstand bypass: Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie. Ons tevredenheid of vergenoegdheid is direk verwant aan ons vertroue in God se teenwoordigheid en voorsiening. Ons ontevredenheid getuig van ongeloof.
Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins.
Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie.
Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.
Maar dié wat wil ryk word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang.
Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.
Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.
Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy geroep is.
1 Tim. 6:6-12
E. F. Schumacher het jare terug gesê, “Small is beautiful,” en baie ander wyse mense begryp dat minder goed sonder uitsondering ruimte laat vir meer siel. Trouens, dit lyk of besittings en siel in omgekeerde proporsies tot mekaar werk. ‘n Human being kan nie ‘n human having wees nie. Jy gaan moet kies of jy jou “wees” of jou “hê” wil voed.
Die meeste Enneagram-leermeesters tref dan ook ‘n interessante onderskeid as hulle sê dat vrygewigheid nie die virtue is wat aan die ander kant van die munt (pun intended) van hebsug lê nie, maar onverknogtheid. Of non-attachment. Die vraag is nie eintlik hoeveel ek gee nie, maar hoeveel ek terughou. Dis duidelik uit ‘n klomp van Jesus se gelykenisse. Is my hart oop en vry en vol ruimte vir watookal Lewe vandag inhou, of is dit benoud en beknop en en vol clutter en uit asem uit?
As Richard Rohr oor ‘n Franciskaanse spiritualiteit skryf sê hy, “It asks us to let go, to recognize that there is enough to go around to meet everyone’s need but not everyone’s greed. A worldview of enoughness will predictably emerge in us as we realize our naked being in God instead of thinking that more of anything or more frenetic doing can fill up our infinite longing and restlessness. Francis dove into simplicity and found his freedom there. This is hard for most of us to even comprehend. Francis knew that climbing ladders to nowhere would never make us happy nor create peace and justice on this earth. Too many have to stay at the bottom of the ladder so some can be at the top. Living simply helps level the playing field and offers abundance and enoughness to all, regardless of our status or state of belonging to religion or group.
“We ask how much a man gives; Christ asks how much he keeps.”
Andrew Murray
Wat hou jy terug?
Wat hou jou terug?
Mag hierdie vrae ons almal wat te veel weet, te veel het, te veel doen nie in ‘n te diep gat laat kruip nie. Mag die oorvloed wat jy besit nie soos ‘n gewig op jou rus nie, maar jou hart oopmaak vir die vreugde van deel en jou toelaat om die ware rykdom wat opgesluit lê in gee en eenvoud te kan vind sodat jy die ligtheid van ‘n gees onbelas deur aardse besittings kan beleef.
Kom ons bid saam met Henri Nouwen:
Here,
Ek is so bang om my geklemde, gebalde, geswete vuiste oop te maak!
Wie sal ek wees as ek niks meer het om aan vas te klou nie?
Wie sal ek wees as ek voor U staan met leë hande?
Help my om stadig maar seker my hande oop te maak
en te ontdek dat ek nie is wat ek het, wat ek doen of wat ander mense van my sê nie,
maar wat U vir my wil gee.
- Frieda van den Heever