Die verhaal van Moses kan ons help om ons eie pad met Jesus beter te verstaan. Hy reis eers deur Egipte en dan Midian om by die beloofde land uit te kom. Vir Moses was dit drie skofte van 40 jaar elk. Ons word geroep en gevorm sodat ons gestuur kan word. Die roeping, vorming en gestuurdheid van Moses word nie deur die sinagoge georkestreer nie, maar alles gebeur buite in die natuur. Indien ons God nie in ons alledaagse lewe sien nie, sal ons hom nog minder in die sinagoge kry. 'n Brandende bos bring sy hele lewe tot stilstand met hierdie woorde: En die Here sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte. Ex 3:7 'n Ontmoeting met God beteken 'n nuwe verstaan en ook ‘n nuwe verantwoordelikheid teenoor die wêreld waarbinne ons leef. Die brandende bos brand eers vir jou, dan in jou en dan deur jou. Moses se innerlike lewe dryf hom nou na buite. Sy lewe gaan nou oor in aksie en 'n nuwe manier van doen. Kontemplasie of gebed en aksie kan nooit geskei word nie. Sy lewe word nou geken aan diens en opoffering aan ander. Sy aksie na buite is nie nuwe uitreikprogramme of barmhartigheidswerk nie, maar eerder ‘n profetiese oorgawe om saam met 'n moeilike gemeenskap die Farao’s van die dag aan te vat. Sy diens aan ander het sosio-ekonomiese implikasies. Die pad van Jesus eindig nie met 'n brandende bos nie maar by die terugkeer na ‘n koue wêreld wat deur Farao’s beheer word.