top of page

Advent: Hoop



Die Here sal daarom self vir julle 'n teken gee: 'n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem. Jes 7:14

Die meeste van ons is teen Kersfees al kersfoos. Die boodskap van Kersfees word gepredik met goedkoop verkoopstegnieke om almal in die gees van Kersfees te kry. Goeie Vrydag is nou Swart Vrydag wat die groot hupstoot gee aan die Kersfeesgolf met al sy duisende laaste-minuut-specials wat die opstanding belowe.

En dan, wanneer Kersdag uiteindelik aanbreek is ons almal moeg en uitgeput met ‘n Kersfees-hangover.

Die meeste van ons weet teen hierdie tyd dat Kersfees totaal oordrewe is. Die probleem met Kersfees is nie die feit dat alles oordrewe is en reeds in Oktober begin nie, maar omdat ‘n mens ook begin twyfel oor die boodskap en die beloftes wat Kersfees inhou. Wanneer Matteus die storie vertel dan herinner hy jou aan Jesaja wat belowe het dat die koms van Jesus ‘n nuwe wêreld belowe. ‘n Plek waar die leeu saam met die lam lê, waar mense mekaar vergewe, waar daar kos vir almal is, genesing vir almal se wonde en waar God self die trane afdroog.

Hierdie mooi beloftes is moeilik om te glo as dit voel of die wêreld eerder ‘n gevaarliker plek word. Skakel maar net die nuus aan. Die Kersverhaal vra vir baie meer as kinderlike geloof. Dit vra na dapper geloof, soos Maria en Josef wat op hoop teen hoop kon glo. Ons kan die verhaal alleen verstaan binne die woorde: “God met ons”. Hierdie woorde is nie jou leë charismatiese of tv-evangelis opsweep Ted-talk nie, dit is eerder om Kersfees te ervaar sonder om ons pyn te ontken of demoniseer.

God stuur geen super-hero wat outomatiese geregtigheid bewerk en al die slegte mense doodmaak nie. Kersfees belowe ons eerder iets anders hier en nou op die aarde: God se teenwoordigheid binne ons. Jy ontvang nie super-kragte of spesiale vermoëns nie, maar eerder ‘n diep bewustheid dat God met jou is.

Dit maak die wêreld se verskil.

bottom of page