top of page

Advent: Vrede



Hier is ons aan die einde van jaar, ons laaste reeks by InVia. Die groot ironie is natuurlik dat Advent die begin van die kerkjaar aankondig. Daar lê juis vir my iets mooi daarin, dat die mense van die Here so stappie voor die res van die wêreld is. Ek bedoel natuurlik nie dat ons beter as die res is nie, eerder dat dit ons voorreg is om vooruit te beweeg, soos ‘n verspieder, ‘n verkenner, ‘n fakkeldraer.

Jy sien, Advent is nie ‘n maklike seisoen in die kerk nie, ons wil dit graag vereenvoudig tot ‘n lekker voorbereiding vir Kersfees en aan mooi dinge dink voor ons op vakansie gaan. Inteendeel, Advent is ‘n seisoen gelaai met politieke ondertone, profesieë, en rebellie. Die lig van die wêreld is aan’t kom en die donker hou nie van die lig nie.

Die storie van Jesus se geboorte is een van radikale vrede in ‘n onstuimige wêreld. ‘n Nuwe Koning wat die donker ryk uitdaag. Ek dink ons kan almal assosieer met die onstuimigheid, en veral politieke onstuimigheid in ons land en die res van die wêreld. Dit is juis binne-in die onstuimigheid wat Jesus kom as Vredevors.

Die Hebreeuse woord vir vrede is Shalom, ons is welbekend daarmee. Shalom beteken ook heelheid, ongebroke, en om herstel te wees. Tog plaas die Nuwe Testament ‘n nuwe deel by die konsep van Shalom. In die Nuwe Testament is vrede nie net iets wat jy ontvang nie, dit is ook iets wat jy maak, wat die kerk bring in ‘n wêreld wat dit broodnodig het.

Ons is fakkeldraers, verspieders, en verkenners. Ek dink dit is waarvoor die Here ons uitnooi, nie om op vakansie te gaan nie, maar vooruit te gaan.

“Our lives begin to end the day we become silent about things that matter.” Martin Luther King Jr.

bottom of page