Ons gebrokenheid wys iets baie spesiaal uit oor ons. Dit is nie bloot ‘n stukkende plek wat moet reggemaak word, ‘n duik wat uitgepoleer moet word, of ‘n stukkende part wat vervang moet word nie.
Ons gebrokenheid onthul ons uniekheid en ons mees intieme self. Die manier waarop ons gekraak is wys iets spesifiek uit oor wie ons is. Nie een van ons dra dieselfde wond nie, en daarom kan ons ook nie mekaar se pyn vergelyk nie.
Almal loop mank.
Ons gebrokenheid is net so uniek soos ons gekosenheid en ons geseëndheid.
Tog is ons as samelewing so vinnig om gebrokenheid te ontken én te misken. Van kleins af word daar vining aandag afgetrek van ‘n seerplek, en sommer ‘n eetdingetjie in die hand gestop om die trane af te weer.
Gebrokenheid, seer, en wonde is deel van die pad tot ons roeping. Dit wys ons wat ons moet gee vir die wêreld. Vir ons om ons gebrokenheid te verstaan en daaruit te kan groei, moet ons dit verstaan onder die sambreel van die Here se seën en nie deur die lens van die wêreld se vloek en ons eie selfverwerping nie. Om nie jou wond onder die seën te plaas nie, is soos om te sê, “Ek het nog altyd gedink ek is nikswerd, en nou dat hierdie met my gebeur het is my suspisie bevestig.”
Daar is ‘n beter, en ‘n ander manier om om te gaan met jou wonde, met jou stukkendheid. Die groot geheim is dat jou wond eintlik jou grootste geskenk vir jou bring.
Kom kuier Sondag saam in Stellenbosch by die Protea Hotel om 10:00 en 18:30 in Woodstock by die Old Biscuit Mill (Die aanddiens sal veeltalige aanbidding hê, met die boodskap in Engels, nooi gerus jou Engelssprekende vriende saam).