top of page

Geliefd: Geseën



Ek het oor die jare ’n renons gevang (die uitdrukking laat my altyd dink aan renosterstropery) … ek gaan weer begin … ek het ’n kleintjie dood (nee, dit laat dink my aan kinderkissies en dis nog seerder) … wat my onmiddellik my eie klein persoonlike likes en dislikes ernstig laat bevraagteken.

So:

ek het ’n gly gevang in die woord “blessing(s)”, veral as die -l met so ’n lekker rollerige Amerikaanse aksent geuiter word. Die woord het my begin koud laat. Die einste woord wat dui op God se gasvryheid, sy warmte, sy onvoorwaardelike liefde. Ek wil graag die blessing-baba terugsit in die badwater, en iemand soos Henri Nouwen, is ’n uitstekende nanny:

“Let me tell you what I meant by the word “blessing.” In Latin, to bless is benedicere. It means speaking (dictio) well (bene) or saying good things of someone. To give a blessing is to affirm, to say “yes” to a person’s Belovedness. And more than that: to give a blessing creates the reality of which it speaks. A blessing goes beyond the distinction between admiration or condemnation, between virtues or vices, between good deeds or evil deeds. A blessing touches the original goodness of the other and calls forth his or her Belovedness.”

Die seën wat ons oor mekaar uitspreek (of weerhou) is uitdrukkings van die seën wat op ons rus van altyd af en tot in ewigheid. Dis die diepste bevestiging van wie ons werklik is. Ongeag die bui of situasie waarin ons verkeer. Een dag voel ons fantasties, die volgende dag miserabel. Een dag is ons vol nuwe idees, môre lyk alles bleek en saai. Een dag kan ons die wêreld aanvat en die volgende dag is selfs die kleinste takie te veel vir ons. Ons word so maklik slagoffers van die manipulerende wêreld, maar wanneer ons aanhou om die diep sagte stem wat ons seën te hoor, kan ons deur die wêreld wandel met die wete dat ons waarlik hoort (in God se hart) en dat dit wel is met ons siele.

Die seën wat op jou rús (nie daai soort wat vinnig aandoen, sy koffie afsluk en dan weer wegjaag nie) - rús … is nie net ’n sentiment nie, maar ’n waarheid wat jou daaglikse lewe kan vorm. Ons gaan Sondag gesels oor hoe ons daagliks, deur gebed en teenwoordigheid, hierdie seëning kan hoor en daaruit leef.

Daar is min of geen neutrale terrein tussen die land van seën en die land van vloek nie, en die keuse van burgerskap berus by jou. As jy nie gaan tyd maak om te hóór dat jy geseënd is nie, sal die tyd kom dat jy oortuig daarvan is dat jy vervloek is. En vanuit hierdie vervloektheid ander mense vervloek. Of sagter gestel, verwens. Hulle Godgeskapenheid misken. ‘Selle ding. Andersom gestel: om jou eie geseëndheid te ken, lei altyd na ’n diep begeerte om ander te seën. Ten spyte van, of miskien ook as gevolg van, jou eie en hulle gebrokenheid.

Ek gaan dit nou maar sê, uit die diepte van my hart (sonder my kop se woordassosiasies en bagasies):

Seën vir jou.

bottom of page