top of page

St. Francis-Dag: Loof Heel Die Skepping



Every being is a spark of the Divine, or God. Look into the eyes of the dog and sense that innermost core. When you are present, you can sense the spirit, the one consciousness, in every creature and love it as yourself.

Eckhart Tolle

Ons vier vandag, saam met mense regoor die wêreld, die lewe van St Francis, gebore in die twaalfde eeu en die Katolieke Kerk se Beskermheer van diere en die ekologie. Dit is ook ’n algemene gebruik vir mense om op St Francisdag hulle diere - honde, katte, voëls, visse - te bring om geseën te word: ’n gebruik wat vir baie van ons vreemd voel. Vir St Francis van Assisi was dit glad nie vreemd nie. Hy het die skepping en alles daarin beskou as die liggaam van God en homself as ’n integrale deel daarvan. Hy het sy liefde vir God uitgedruk deur sy verwondering en bewaring van die natuur. Hy is ook bekende vir sy woorde: “Deel die evangelie te alle tye, en wanneer nodig, gebruik woorde.” Hy het gepraat van Moeder Aarde en Broeder Son en Suster Maan, so asof alles heilig en niks uitgesluit is by die uitnodiging van God se seën nie.

Jeanne Goosen verwoord hierdie lewensbeskouing op haar egte manier:

Die hond met sy hare wat die Here hom gegee het is ’n heilige Kyk hoe mompel hy in sy slaap Hy verlaat hom nie op begrip nie Hy krap homself in ’n supermark en skaam hom nie daaroor nie Tussen skares volg die hond die weg van die guitige plassies Die hond soek die son onbeskaamd op Die hond soen sy medehond onvoorwaardelik en met die eerste kennismaking want alle honde is vriende, verwant aan mekaar Die hond leef oop soos ’n blom Hy word nooit moeg daarvan om hond te wees nie As ’n mens maar mens mog wees soos die hond, hond

Ons gaan Sondag saam nadink oor ons aarde - ons geknelde en wonderbare planeet. Ons het baie om oor na te dink en te bely as mense, maar ook baie om oor fees te vier en ons te verwonder. Uit die stof klink die lof!

Kom, alles wat groot is in die skepping, kom prys die Here! Kom, berg Kilimandjaro en Victoriameer, kom, Skeurvallei en Serengetivlakte, kom, vet kremetarte en mangobome, bloekoms en tamarinde, kom, LOOF DIE HERE! Roem en loof Hom vir ewig en ewig.

Kom, al julle kleintjies: besige swart miertjies en wippende vlooie, wriemelende paddavissies en muskietlarwes, kom, julle vlieënde sprinkane en spattende waterdruppels. Kom, stuifmeelspikkels en tsetsevlieë, grassade en daggaplantjies, kom, LOOF DIE HERE! Roem en loof Hom vir ewig en ewig.

‘n Lofsang uit Afrika

bottom of page