top of page

Jesus Se Mees Irriterende Stories: Grondhervorming



“Dis die ekonomie, dommie!” Jesus se eerste preek in Luk 4:17-28 het nie goed afgegaan nie. Dit begin baie goed met almal wat Hom bewonder in vers 15 en dit eindig met mense wat Jesus van ‘n krans wil afgooi. Hierdie patroon van die kansel-na-die-krans speel ook binne-in ons uit. Ons hou van Jesus wanneer Hy alles bevestig wat ons glo, maar sodra ons geloof uitgedaag word wil ons ontslae raak van Hom. Jesus is baie veiliger as die “seun van Josef” soos wat sy eerste gemeentelede dit verkies. Wat was die probleem met sy eerste preek? Hy praat oor die “ekonomie, dommie!” in Jan-Jan Joubert se woorde. Moeilike onderwerpe soos grondhervorming is ter sprake. Swart mense in Suid Afrika wat voel dat die geweer, geloof en goud hulle verower het sou graag na die preek wou luister. Wit mense met hulle angs en skuld en grensvegter-verlede sou baie moeiliker na hierdie preek wou luister. Presies wat stel Jesus voor? Die verspreiding van rykdom? Die herverdeling van grond? Die totale vernuwing van ‘n sisteem van ongelykheid? ‘n Nuwe revolusie? Watter invalshoek jy ookal gebruik om die eerste preek van Jesus te probeer verklaar, kan jy nie anders nie as om te antwoord op sy metafoor en verbeelding oor vryheid. Of jy nou Swart, Wit of Bruin in Suid Afrika is, hierdie preek het ongelooflik hoop vir al die partye ter sprake. Ons gesels die volgende paar weke oor die woorde van Jesus wat mense tot die afgrond toe geïrriteer het.

bottom of page