top of page

Oor Alkohol, Amandels En Amigdalas



It is a bewildering thing in human life that the thing that causes the greatest fear is the source of the greatest wisdom.

C.G. Jung

Verwarrend én verbysterend, inderdaad.

Die amigdala is die amandelvormige middelpunt van emosionele prosessering diep in die brein. Dis ook daai deel van jou brein wat jou heeltyd skrikkerig maak vir dinge wat dalk verkeerd kan gaan. Meeste van ons se amigdalas blyk ooraktief te wees.

Die gebruik van alkohol verdoof die uitdrukking van duisende gene in die amigdala, wat heel moontlik verklaar hoekom jy al hoe meer moed skep hoe leër die brandewynbottel word. Die verwoestende effek wat hierdie vals moed en gebrek aan vrees op baie mense en hul gesinne se lewens het, is ’n onomwonde feit en dat daar nie baie goeie goed uit alkoholisme, of enige ander vorm van verslawing kom nie, is sonder twyfel so.

Maar waar twee of drie alkoholiste bymekaar kom, mekaar in ’n koor op die naam groet, erken dat hulle sukkel, nie in beheer is nie, moet staatmaak op ’n Hoër Hand, dag vir dag wil leef en en dit ’n AA-byeenkoms noem, voel baie mense hulle meer tuis as in meeste kerke. En as mense die gebed saambid wat alom bekend is as die “Serenity Prayer” of Gebed om Kalmte (oorspronklik geskryf deur Reinhold Niebuhr, maar werklik bekend gemaak deur die AA-program) voel ek of ek my in die geselskap van engele en wysgeers bevind.

God, gee ons die genade om met kalmte die dinge te aanvaar wat nie verander kan word nie, die moed om die dinge te verander wat behoort gewysig te word, en die wysheid om die een van die ander te onderskei.

Reinhold Niebuhr

Vir wat meer kan mens vra? Dit klink soos ’n resep (gebed) wat enige gebak (lewe) flopvry kan hou (kan red).

Bindingsagent: Genade Bestanddele: Kalmte en moed Beslag lê in: Wysheid Berei voor met: Liefde.

Eenvoudig. Maar nie maklik nie. Die geraas in ons skedels maak dit meestal onmoontlik om die wysheid (onderskeidingsvermoë) waarvoor Niebuhr hier bid, te vind. Ons is meestal so vasgevang in ons vrese dat ons nooit die óórsaak daarvan - wat die bron van die grootste wysheid in ons lewe kan wees - bevraagteken nie. Ek is nie een vir akronieme nie, behalwe as dit jou help om ’n langvraag in ’n eksamen te onthou, maar sommige sê FEAR is bloot ’n akroniem vir “False Evidence Appearing Real.”

Ons verwar meestal ons lewensituasie vir ons lewe. Ons laat toe dat ons omstandighede ons instandighede rig, en nie andersom nie. Ons skop teen die dinge wat ons nie kan verander nie en gooi hande in die lug oor die dinge wat ten hemele skreeu. Ons verleer dikwels die vermoë om te kan onderskei tussen sensasie en storie, tussen realiteit en gevreesde illusie.

Ter illustrasie: my pa het nou die dag ’n tannie gaan besoek op haar sterfbed in die hospitaal. Toe hy haar vra of sy pyn het, sê sy “Nee, dominee, geen pyn nie. Dis vrek seer, maar ek het nie pyn nie.”

Die tannie het een van die groot sleutels tot wysheid - die kuns van lewe en sterwe - gehad. Die een wat ook aan Paulus gegee is: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.”

Ons gaan Sondag gesels oor die “dwase” wysheid van die AA (aangetaste amigdalas) opgesluit in geloof in 'n getroue God wat, onafhanklik van ons vrese, bestaan en Woord hou.

bottom of page