top of page

Kersfees Kom!



And so the cycle goes, bringing heavenly Light down and into earthly Life, and then returning Life to Light - thus uniting downward Agape and upward Eros, Descending and Ascending, Compassion and Wisdom, with every breath you take.

Ken Wilber

Ek hoop jy sit en lees hierdie woorde in ’n ruimte wat jou laat veilig voel, laat verlig voel, met vrede en vreugde vul, iewers waar jy werklik kan asem haal. Oor die feestyd word baie van ons gekonfronteer met dinge uit ons verlede - die nabyheid van familie (en skoonfamilie!) en die feit dat ons meestal saamkoek onder een dak, met minder persoonlike spasie as gewoonlik. Of miskien is dit juis wat jy mis vandag. Om tussen geliefdes te wees. Of dalk is dit waarvan jy weggehardloop het hierdie keer en sit jy iewers, verafgeleë om te ontsnap van dinge en mense uit jou verlede. Kersfees het ’n manier om ons almal anders te kom besoek. Nie omdat dit ‘n datum is nie, maar juis omdat dit ‘n daad is. ‘n Daadwerklike realiteit. Wat steeds afspeel.

Moenie my verkeerd verstaan nie: ek hoop werklik dat jy vandag ’n diep innerlike geluk ervaar wat nie gekoppel is aan die kerskostafel wat kreun of die geskenke onder die kersboom vol liggies nie. Ek hoop dat jy vandag aan die ont-vangkant van vervulling staan, en nie aan die vangkant nie.

Ons het op ‘n manier hierdie idee dat ons elkeen die reg het tot die soeke na geluk. God het ons geskep om gelukkig en vol vreugde te wees in hierdie wêreld en die hiernamaals, en Jesus sê dieselfde ding ‘n paar keer in Joh. 14-17. Die enigste verskil tussen die twee – die tipe geluk wat die Amerikaanse Droom (wat ook oorgewaai het na die suidpunt van Afrika) voorhou en die vreugde waarvan Jesus praat – is dat enige geluk wat vereis word van die lewe nooit werklik geluk is nie omdat dit so selfsugtig nagejaag word. Die “vreugde wat die wêreld nie kan gee nie” (Joh. 14:27) kom altyd as ‘n geskenk vir dié wat daarop wag, dit verwag, dit afwag en plek daarvoor maak binne-in hulleself. Die eerste soort geluk is vat-vat-vat of vang-vang-vang, die tweede is ontvang. Jy vang nie ‘n vlinder deur dit te jaag nie. Jy sit stil en die vlinder kom land sagkens op jou skouer. Dit kies jou. Dit is ware geluk. Want Advent is nie hoofsaaklik ’n reis wat ek en jy aflê nie. Dis God se reis na ons toe! Dis nie ’n vakansie of ’n trippie iewers heen wat ons beplan nie, dis die tyd wat ons voorberei vir die Here se “wegbreek” na ons toe. Dis die tyd wat ons gereed maak om Hom te ontvang.

As die najaag van geluk vir my en jou ‘n private onderneming is, sal ons dit nooit vind nie. As ons te midde van publieke pyn en lyding steeds net daarop uit is om ons eie geluk, sekuriteit, aanvaarding en besittings te beskerm, leef ons in ‘n illusie. Empatie en samehorigheid met die pyn van ander het ‘n ongeëwenaarde kapasiteit om “plek te maak” binne-in ons. Dit is, soos Richard Rohr sê, waarskynlik ons grootste geestelike leerskool.

Watter verknogtheid in jou lewe kan jy van laat gaan, of raak sien, om meer plek te maak vir Christus se “geboorte” vandag in jou?

Is daar plek in jóú herberg?

Ek groet jou vandag met ’n kersgebed. Mag hierdie woorde vlees word in jou, mag jy die mooi idees in jou kop beliggaam, mag jy ’n lewende Christus-gewaarwording wees!

‘n Kersgebed

Bron van Lig, Immanuel, God-met-ons, U Helder liefde het ons wagtende wêreld kom verlig Met die verrassing van U Betlehemgeboorte. Van toe af vier ons elke jaar hierdie verbysterende gebeurtenis, Verbly ons in U nuwe koms, nie net as ‘n pasgebore baba nie, Maar as die verborge Teenwoordigheid van goddelikheid binne-in elkeen van ons. Tot ons groot verwondering, het ons U woonplek geword. Ons is nou U Betlehem.

Nou is jy Skat gebore in die geheime plek van ons siel. Nou is jy Blydskap wat deurbreek in die donker grotte van ons seer. Nou is jy Vrede wat stil-stil gloei in die krake van ons angs. Nou is jy Liefde wat weerspieël word in ons meegevoel.

Christus, Lig van alle ligte, Ster van alle sterre, Bewoner binne-in hierdie menshuise van ons, Maak ons wegloopkoppe, ons drosterdoppe en ons huiwerharte oop Dat U eindelose goedheid meer volmaak in ons kan woon.

Ons verwelkom jou weer en weer, met dank en vertroue, Nie net in die Kersseisoen van onthou en feesviering nie Maar deur die nuwe jaar wat ons inwag.

Joyce Rupp

bottom of page