Jesus se wêreld is ‘n onderste bo wêreld, geluk in Jesus se wêreld lê nie op dieselfde plekke en word nie verkry op dieselfde wyses as in die res van die wêreld nie. Jesus se geluk lê in teenstellings, in paradokse. Daarom praat ons van vreemde geluk.
Die mense wat rondom Jesus gestaan het, het hartseer geken. Dood was alledaags in ‘n wereld sonder antibiotika.
Net om ‘n idee te gee, tussen 30 en 40% van babas is oorlede, vergelyk met Suid Afrika se 3% sterftesyfer vandag.
Meeste mense het nie 30 gesien nie, gemiddelde lewensverwagting was maar 24. Mense het hartseer geken, hulle was arm, onderdruk, en kwesbaar.
Ook belangrik om te onthou, dat siekte en dood ‘n mens ook uitgesluit het. Iemand wat aan ‘n lyk geraak het mag byvoorbeeld nie vir 7 dae naby ander gekom het nie en saam aanbid het nie.
Siekte of dood in jou huis, en gesin, was ‘n teken, ook gesien deur baie, as God se straf. Selfs vandag nog sal party mense sulke nonsens kwyt raak.
Om te sê hierdie mense is geseënd is radikale taal van Jesus. Jesus sluit die in wat uitgesluit word deur die res.
Liefde en leed loop soos twee spore in die pad. Jy kan nie sommer die een van die ander skei nie, selfs Jesus het gehuil. Ons almal huil of laat ek dit so stel, ons almal moet huil. Hartseer help ons om weg te breek van dit wat ons onstel het, dit wat ons seergemaak het, en dit wat ons verloor het.
Daar is ‘n storie van ‘n vrou wat se kind oorlede is, sy het die lyk aan haar lyf vasgebind en die berg opgeklim waar ‘n monnik gebly het wat glo wonders kon doen. Toe sy uit eindelik by hom uitkom het sy hom gevra, gesmeek, om haar kind weer lewend te maak.
Hy het geantwoord dat hy dit kan doen, maar net as sy ‘n handvol koring kan bring van ‘n huis wat nog nie sulke hartseer beleef het nie.
Sy het afgegaan van die berg af en van deur na deur gegaan in haar dorp en later deur die hele land. In al haar reise kon sy nie een huis kry waar daar nie sulke hartseer al was nie. By elke huis het sy die trane gesien, saam geluister en gepraat, en gehuil.
En daarna kon sy haar kind begrawe.
Gaan huil dit uit. Sal ‘n goeie pa of ma sê, want hulle weet huil is nodig. Treur is nodig, anders dra ons die dooie saam met ons die hele dag en selfs ons hele lewens.
Ons is mos sterk, ons sit ons maskers op en ons sing gelukkige liedjies dat dit klap, veral vir ons mans is dit soms moeilik om hartseer te wees.
Ons almal is hartseer soms in ons lewens, gaan ek en jy kies om dit wees, sodat God ons trane kan afvee of gaan ons, ons huil sluk?
Wil jy weekliks ons blogs ontvang? Teken hier in