Luther lê nou die dag, hy was 3 jaar oud, op sy bed in sy kamer met sy hande agter sy kop en sy bene gekruis. Kompleet met die een voetjie wat so ritmies tik.
‘Wat maak jy?’ vra Rialette, my vrou. ‘Dink jy so bietjie?’
‘Nee,’ antwoord Luther terwyl hy steeds na die plafon staar, ‘ek dink baie.’
En so is dit met ons almal. Ons dink verskriklik baie, ons gedagtes loop soms teen ‘n honderd myl ‘n uur, ‘n konstante stroom van idees, bekommernisse, vrese, en begeertes.
“… Sy het my pen gevat, van my lessenaar af… dalk wil sy my werk ook hê?… ek is seker sy gaan dit probeer vat... nou-nou vat sy my man ook… en dan bly sy in my huis… ek kan nie glo sy slaap in ons bed nie… en kyk hoe lelike duvet covers het sy gekies… aaklig… ek moet nuwe duvet covers nog gaan koop… net eers die kinders gaan oplaai…”
Jesus nooi ons uit na nuwe denke, na ‘n Christus lens, na ‘n lewe en ‘n gedagtegang nuut gevorm.
‘n Gedagtegang en ‘n lewensfase gefokus op liefde vir die ander, ‘n kop vir die ander, ‘n kop wat ‘n wêreld sien, nuutgemaak.