Ek hoop regtig dat jy soms twyfel.
Ek doen. Gereeld.
Ek twyfel oor hoe ek dink oor God, oor wat ek verstaan van om Jesus te volg, oor wat ek weet van die Bybel. Ek wonder en betwyfel my elke dag se saam met Jesus stap. Ek twyfel of ek heeltemal verstaan wie Hy is.
As jy twyfel, is ek bly. Twyfel wys vir my jou geloof en pad is lewendig. Twyfel is broodnodig vir ʼn groeiende, lewende verhouding met die Here.
Ons as mense hou nie van verandering nie; verandering wys gevaar en al wat ons oerbreine wil doen, is om ons lewendig te hou en daarom is ons so gekant teen verandering. Ons wil goed mooi in boksies sit en op kliptablette uitkap.
So, wanneer ons dink ons weet iets van God, kap ons dit in klip uit, verklaar dit heilig en laat iemand nou net iets teen dit sê – dan is die hel los.
Tog, is dit net ons denke oor God wat ons neerskryf wat ons so heilig verklaar? Kan ons waarlik eenhonderd persent verwoord wie God is, hoe Hy werk en wat Sy plan is? Ek sou waag om te sê nee. Ons het maar net ʼn prentjie, ʼn beginpunt dalk van wie God is.
Kan jy dink dat, as jy nog steeds geglo het in die God wat jy ontdek het toe jy sewe jaar oud was, as dit nie vir twyfel was nie, sou jou prentjie nooit gegroei het nie, sou dit net vasgehaak het op een plek.
Ons skep ʼn prentjie van God in ons kop, iets soos ʼn Kinderbybelbeeld dalk; God op Sy troon met engele met harpe, of Jesus met blonde hare en ʼn waswit vel. Of dalk ʼn prentjie van ʼn kwaai God, wat rede soek vir weerligstrale gooi. Of dalk van ʼn God wat slegs in beweging kom as ons genoeg bid, of genoeg mense saamtrek om te bid.
Tog, dalk is God meer. Inteendeel, ek is seker Hy is meer as ons prentjies, as ons hoogste en grootste idees en intellektuele debatte.
Groot geloof het ruimte vir twyfel, ruimte om te kan sê: “Ek was verkeerd, ek weet nie.” Geloof het ruimte vir twyfel.