"All religions, at one point or another in their evolution tried to proclaim their single, inerrant consistency. All religions even the most liberal, were tempted by the reactionary impulse to freeze faith in place. Because as Jesus teaches, it's easy to be threatened by the reality of the complicated, messy, syncretic, God-bearing truth that becomes incarnate among us and makes things new. We'd rather have a dead religion than a living God."
Sarah Miles
Dis sekerlik nie ’n nuwigheid om te weet dat daar heelparty mense is wat nie soos jy dink of glo nie. Dis so oud soos Adam en Eva. Of Kaïn en Abel, as jy wil grafies raak. Dit het net voorheen makliker gelyk om dit te ignoreer of om sulke indringers, uitlanders, heidene of goddeloses hel toe te stuur (hoe durf hulle anders lyk, kyk en love make as ek?)
Die Wêreldwye Web, die einde van Apartheid (die offisiële een, altans), die oënskynlike nabyheid (dikwels ook die einde van intimiteit) wat sosiale media bemiddel en die tydsgees maak dit deesdae dalk net ietwat moeiliker om weg te wens. My generasie is darem al geleer om andersaanbiddendes te verdra (bloot te verdra - uit Jesusliefde, want ai shame, hulle gaan dan nou alreeds nie hemel toe nie, miskien hoef hulle lewe op aarde darem nou nie óók hel te wees nie), maar die nuwe generasie vra dank-die-Vader veel dieperreikende vrae.
Dit maak eenvoudig nie meer sin (het dit ooit?) dat die beste Christen die bangste een is nie. Die een wat die meeste in opstand kom teen ander geloofstradisies of die meeste Moslems (of Mexikane) probeer bekeer of deporteer nie… behalwe in groot dele van Amerika, blykbaar.
Paulus het gepreek dat daar “in Christus” nie meer Jood of Griek is nie. Nietemin wil dit lyk asof elke groot geloofstradisie in die wêreld al verdeeldheid gebruik het om sy boodskap oor te dra. Die Christendom het die wêreld verdeel in die gereddes (“saved”) en vervloektes (“damned”). Moslems het ’n soortgelyke konsep en verdeel die wêreld in gelowiges (“believers”) en ongelowiges (“non-believers”). Jode verdeel die mensdom in die uitverkorenes en die verwerptes. Boeddhiste verdeel die wêreld tussen die verligtes (“enlightened”) en onverligtes, en Hindoes maak ’n onderskeid tussen diegene wat bevry (“liberated”) is en dié wat nog vasgevang is in die web van illusie, maya.
Tog word ons almal vasgehou deur die bestaan van dieselfde beginsel van lewe, dieselfde Goddelike bron wat besig is (en besig was en besig sal wees) om ons geduldig lief te hê en te versorg, oomblik na oomblik. Die gemeenskaplike verstaan wat al die tradisies verenig is dat ons óf kan bestaan in ’n vervalle staat, aan die slaap en bewusteloos, óf dat ons kan wakker raak, bewus word van die Groter Geheel en saam kan werk om dit te herstel. Ek hou van hierdie prentjie: as elke tradisie ’n vinger op die hand verteenwoordig, kan ons óf die vinger gebruik om na mekaar te wys (kies jou vinger) óf ons kan die vingers buig sodat hulle kan ontmoet by die Palm, waar elke vinger tog sy oorsprong vind.
Moet my nie verkeerd verstaan nie: ek het geen begeerte om ’n ander vinger te word nie (al vermoed ek my tradisie word dikwels beskou as die lang middelvinger, of miskien die veroordelende wysvinger, van die hand.) Ek wil wel voel hoe ons teen mekaar skuur as ons werk, as ons bid, as ons lag, as ons huil. En as die hand toevou en ’n gebalde vuis word, wil ek weet die vuis lig teen ongeregtigheid, teen verdeeldheid. Nie teen mekaar nie. Nie om te wys dat my God beter is as jou God nie.
Intergodsdienstige dialoog en vriendskappe wat gegrond is op wedersydse respek mag en kan nie meer die uitsondering op die reël wees nie. Nie as ons waarlik die weg van Christus kies nie. Jesus is nooit jou “troefkaart” nie. As ons kan ophou om Hom op kompeterende wyse in te span en Hom op kosmiese wyse kan volg, sal die Universele Christus waarvan Paulus skryf (Kol. 1) vir baie meer mense werklik en uitnodigend en sielsbekend wees: "Alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge tot stand. Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen …”
Mense sal actually vir Jesus wíl volg, en die Goeie Nuus wíl hoor … dieselfde Evangelie wat so dikwels gereduseer word tot ’n “Kom word deel van ons - of anders…” Jesus Christus word deur baie van sy belydende volgelinge voorgehou as ’n eksklusiewe saligmaker in plaas van die totaal inklusiewe redder wat Hy moes wees, nee, wat Hy ís! Soos Brian McLaren altyd sê: “Jesus is the Way - he’s not standing in the way!”
Richard Rohr sluit by hom aan as hy sê: “Once Christians learn to recognize the Cosmic Christ as the original metaphysical identity of the second Person of the Trinity—an identity much larger than the historical Jesus—then Jewish, Muslim, Hindu, Buddhist, and spiritual-but-not-religious people have no reason to be afraid of us, nor we of them. They can easily recognize that the Cosmic Christ includes and honors all of creation—including themselves—from the very beginning of time.”
Hoe kan ons Christus onomwonde, sonder skroom, met alles, volg - nie net sê ons het Hom lief nie, maar VOLG? Kan ons dit waag om vry genoeg te wees om almal lief te hê wat God liefhet (nie omdat hulle Hom liefhet nie, maar omdat Hy hulle liefhet), wat lyk of dit elkeen, almal, de laaste ou is.
Die ou gesang bly lui so in my kop:
God is Liefde …
juig ons harte … (maak hierdie allesinsluitende, allesomvattende Liefde jou nog lewendig?)
en bedink wat Liefde doen … (hoe kan God, wat Liefde is, enigiets minder of meer as dit doen?)