(Matteus 14:22-32)
Jy hoef nie meer ‘n profeet te wees om voorspellings oor die toekoms te kan maak nie – ons almal weet die wêreld is broos en die wêreldekonomie kan binne sekondes uitgewis word.
Die enigste ding wat seker is, is dat alles verander. Wat doen ons in tye van onsekerheid? Ons soek sekerheid. Daarom is daar ‘n Brexit, Trump’s en verkiesings wat nou deur fundamentalisme oorheers word.
Almal belowe sekerheid en ‘n risikovrye lewe.
Jesus het ook in baie kerke niks minder as ‘n versekeringspolis geword nie.
Indien ek Jesus volg, word ek deel van ‘n beweging wat sy ontstaan het in die dood van hulle leier. Jesus se woorde veroorsaak meer ongemak, en daarom word ons uitgenooi om ook ‘n kruis elke dag op te neem. Die woorde: Volg, gaan, kom, doen, staan op, loop, verkoop, en baie ander bevele nooi ons uit om risiko’s te neem.
Die uitnodiging is eerder om van sekerheid na geloof
en ‘n vaste vertroue in God te beweeg.
Ons gesels Sondag oor hoe ek gesonde risikos kan neem wat my geloof kan laat groei in ‘n vaste vertroue in God.
Dilemma
Die verskil tussen ons
en die heiliges
is dat hulle uit die skuit
geklim het
om op die water te loop –
en ons wat elk
sy eie vastigheid wíl
kyk hulle
soos drenkelinge agterna.
Sheila Cussons